Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 54]
| |
Netnou was dit nog wolkerig,
En outa Adam het gesê:
‘Kleinbaas, ons sal weer donder hê -
Ja waarlik, basie, kyk hoe dig!’
Nou is die wolke weg; die straal,
So geel soos goud, lê oor die rooi;
Die skoenlapper die speel weer mooi
En vlieg weer op om neer te daal.
So is dit in ons wêreld: Nou
Is alles weer so wolkerig,
Die toekoms swart, met donker dig:
Dan somaar speel die son om jou.
|
|