| |
Woltemade se spook
‘Hier agter troon die Duiwelskop;
Ou Tafelberg is vlak daarnaas -
'n Egte tafelklip, waarop
Die seedons afdaal soos 'n waas,
Nog witter as renosterrook,
Nog dunner as die jongste spook.
Die onderdeur staan ope nou,
Al is die naglug nog so koud,
Al is die water nog so rou,
Al glans die weerlig bont soos goud:
Die seelug is mos nie 'n dief -
Ek hou van hom, ek het hom lief!
My kers is amper uitgebrand;
Dit kwyn nog net 'n vlammetjie;
Ek het 'n snuiter by die hand -
Die ouderwetse ding, hierdie;
Maar ek wil maar die kers laat staan:
Dit kan nog meeding met die maan -
Die maan wat deur die wolke trek
Soos 'n fisant deur ruigtegras -
Nou vol, dan halfpad toegedek
Deur wolke, dan weer in die kas;
Nou skemer oor die strand, dan swart,
Stikdonker skadu, koud en hard.
| |
| |
Geen ster skyn deur die vensters hier;
Geen mot vlieg om my kersievlam;
Geen gogga gons of maak getier;
Ja, selfs die wind se stem is lam:
Die hele nag het dit gedreun,
Die hele aand lang deur gekreun.
Dof slaan die see daar oor die sand,
Eentonig oor die klippers weg;
Die seegras strooi die hele strand,
Waar skuim nog met die skulpe veg -
Grys soos 'n blinde man se oog,
En troebel soos 'n emmer loog.
Hier binne gooi my kers se skyn
Groot skadu-spoke teen die muur,
Wat flikker, fladder en verkwyn,
Soos spinnekoppe in 'n skuur;
En hoog daar bo, daar by die dak,
Waai vlaggies van vuil spinnerak.
Nou luister maar! Daar hoor jy raas,
Sag soos 'n muis wat bruidskoek kna
Of vir sy maters in 'n kaas
Trakteer op wat hul weg kan dra.
'n Dof geritsel by die deur -
Iets koddigs nou kan jy bespeur!
'n Voetstap op die stoep - 'n ding
Wat, sagter as 'n blootvoet kind,
Dwars rondloop soos 'n vreemdeling,
So vinnig soos die skemerwind;
Wat skielik in die duister blink
En dowwer oor die drumpel klink -
Iets wat jy nie met oë kyk;
Iets wat jy nie met vingers vat;
Wat deur die hele kamer reik;
Wat kruip so deur die sleutelgat -
Miskien 'n bietjie mis of rook,
Of Wolraad Woltemaad' se spook!
Jy sien hom nie; jy voel maar glo
Die yskoue lug waarin hy gly!
Die spinnekoppe spartel so
Die kat krimp weg, sy rug is krom;
Die hond die huil; die wind is stom!
| |
| |
En elke nag teen middernag,
Dan ry die yskoue spook op land,
En kuier op die strand, en wag
Sy lewe wat die see as pand
Moet hou, totdat die eerste slag
Geslaan word op die laaste dag.
En as hy oor die drumpel waai
En inkrimp in jou huis, dan kreun
Die ou skarniere, en dan swaai
Die onderdeur; 'n dof gedreun
Klink in jou ore, want dis ook
Die koms van Woltemaad' se spook!
Jy moenie daarvoor bang wees nie!
'n Spook het mos geen been of murg:
Wat kan hy kwaad doen, of vir wie
Kan hy so goedsmoeds dood verwurg?
Nee, glo nie, hy sal rusie stook!
Hy is mos Woltemaad' se spook!
Hy kom net om die strand te sien
Waar eenmaal hy 'n heldestreek
Begaan het om die Plig te dien.
Verbeel jou hy is dood en bleek:
Hy kan jou nie moveer nie, en jy
Moet trots wees op sy koms en bly.
Net goeie mense sien sy spook!
As jy miskien op sterwe lê,
Gewaar jy hom as gryswit rook
Waaruit 'n stem klink sag en sê
(Al dink jy ook, dis maar die wind):
‘Kom saam met my; kom huis toe, vrind!’
Al is jy goed of goddeloos,
Sit net maar stil alleen en wag;
Alleen, met twak en tonteldoos,
Gewaar jy hom op middernag -
Nie met jou oog, nie met jou hand:
Net met jou siel en jou verstand.
Gevoel - alleen daarmee bedeel
Kan jy vir Woltemade sien:
Het jy dan ook gevoel nie, skeel
Hy jou niks, want jy word miskien
So vaak en teemrig dat jy gaap,
En netnou is jy vas aan slaap.
| |
| |
Dan droom jy Woltemade kom
Net soos Klaas Vakie deur die dak
Of skoorsteen - want 'n spook is dom
En gee nie om die spinnerak;
En as jy slaap, dan bo jou kop
Dan skrik jy wakker en kyk rond:
Die kersie gluur nog om die pit,
Die skadu flikker oor die grond,
Die sterre en die maan skyn wit,
Jy hoor nie eens 'n kreun of sug,
Jy voel net maar die yskoue lug;
Maar in jou kamer, by jou bed,
Daar het sy spook gestaan, en hy
Het op jou in jou slaap gelet,
Oor jou sy hande uitgesprei:
‘Ek het my plig gedoen, gegee
My lewe aan ons Moedersee.
Ek het my plig gedoen; en jy -
Jy wat so sedig droom en gaap -
Wat het ons land van jou gekry?
Het jy gewerk of net geslaap?
Jou lewe, was dit werk of rook,
'n Droom - soos Woltemaad' se spook?’
|
|