| |
Die ou blikkie
Wat is die ding wat jy daar hou?
Wat droom jy oor 'n blikkie, vrou? -
Wat is die ding tog nou vir jou?
‘Ek wil hom skoonmaak dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie -
Daaruit het Gert en Griet gedrink.
Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.
Ek wil daarin 'n plantjie plant
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
Was vasgeklem in Griet haar hand.
As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:
Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar -
Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?
Ja, Gert en Griet was heel my hart!
Die plaas is afgebrand en swart -
En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.
Ons kan die plaas weer opbou - ja,
Jan het al geld te leen gevra;
Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?
| |
| |
Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklige oorlogsdamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Dáár is hul lewe uitgestamp!’
Vergeet wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vrede-vrinde nou!
Die armsalige ou blikkie -
Wat is dié ding tog nog vir jou?
‘Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit 'n gebroke riet,
Is anker teen my sielsverdriet.
Die plantjie wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;
Want ek het nog 'n traan gespaar,
Nog 'n paar sugte opgegaar,
Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.
As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan 'n silwer waas
Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.
Ek luister; en dit skyn vir my
Klein Gert is weer hier aan my sy,
By jou, armsalige ou blikkie.
Om weer 'n slukkie melk te kry;
En Grietjie staan daar by die deur -
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?
Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
En, armsalige ou blikkie,
My hart is amper net so kaal.
Solank jy op die vensterbank
Hier by my staan, so rein en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank
| |
| |
Dat Hy, toe daardie oorlogsramp
My kinders altwee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Verstik het met sy oorlogsdamp,
Nog in my hart die hoop kon gee
Dat ek bedaard was in my wee -
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink ek sien hul weer, altwee!
Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou 'n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!
Verbeelding - dit is alles nou
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!’
|
|