Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die soutpan Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal Die see daar buite waar die branders breek - 'n Strand vol klippies en 'n pol'tjie kweek Van ruigtegras, nou nie meer groen, maar vaal. Hier praat die veld 'n onverstaanb're taal; Hier maak die son die blou soutwater bleek, Totdat hy saans vermoeid sy kop versteek Agter die duine, waar sy glans verdwaal. Hier staan die soutkors sonder vou of plooi, Glad, silwerwit, en met 'n goudgeel lys Van modder en klei - hier dun en daar nog dig. So arm die wêreld hier, en tog so mooi - Stil, soos 'n oumens amper oor sy reis En met die Dood se skadu op sy gesig. Vorige Volgende