Aan 'n seepkissie
Hulle het jou in Eng'land gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as 'n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jou selwe as doodkis gesien.
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom -
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in Eng'land tot doodkis vir hom!
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe ... was hy dood!
Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.
Op die Vrydagmôre - onthou jy, kissie -
Het Tannie gesê: ‘Ag, klein Jannie die hoes!’
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.
Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as 'n doodkis daar!
Die wit gesiggie - jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.
Hulle het jou in Eng'land gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien;
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jou selwe as doodkis gesien.
|
|