Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 29] [p. 29] Mordegai Ag, smous, waar gaan jy heen? Waar loop jy, smous? Waarom so haastig, smousie? Sê vir my! Jy het nog werk te doen? Ag nee, jy flous: Jou werk is afgedaan; jy is mos vry. Die hele dag het jy ons volk besteel; Op alles tien persent of meer gewin! Ja, krap jou kop: die waarheid jeuk mos veel En is nie altyd na 'n mens se sin. Wat maak jy, smous? Jy is mos Jood; nou kom, Jy het jou wet - ek ken nog wat daarvan; En tog, jy draai Leviticus maar krom, En Deut'ronomie pas nie vir jou, man. Het jy nie gisteraand by ons geëet? En ons het varkvleeswors gebraai gekou; En niemand van ons nasie is ... jy weet! Is dit geselskap vir 'n Jood, vir jou? Jou wet sê: ‘Woeker nooit!’ En tog, jy vra Op wat jy leen, oor tien persent per jaar! 'n Skande, smous! Sou Moses dit verdra? Dié man het jou laat stenig deur die skaar! En tog, ou smous, al heet jy Mordegai; Al eet jy soms, so per abuis, ook sult; Al is jy ook 'n vent wat altyd draai, Wat moet gestenig worde op 'n bult, Waar al die mense jou kan sien as jy So rond moet spartel as die klippe kom - So sê jou wet, en dis genoeg vir my: Dis joue, hoor, soveel jy daaroor brom! - Tog hou ek van jou, byna as 'n vrind - 'n Maat miskien, as dit nie sonde is! Jy het my lekkergoed gegee as kind En niks daarvoor gevra - of het ek mis? Miskien wou jy ook daarmee woeker, hoor! 'n Kind se liefde's meer as tien persent, En klontjies goedkoop. Waarom dan versmoor Jy in 'n sweetdoek so jou een talent? Vorige Volgende