Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende In die Boesmanland Vaal rotse rondom, met vaal sand en klei, En boesmangras en varings, geel en groen - Wat 'n mooi wêreld hierdie! - mooi geboen Deur die Natuur, en mooi ook deurgebrei Met bossies en met blomme! Dis vir my Asof die son die wêreld self wil soen, En ook die sterre daaraan mee wil doen By nagtyd, as die veld sy sluier kry. Hier was my tuiste in my woeste jaar, Toe ek nog kind was, sonder pyn of vrees, Want ou Paaiboelie self was toe te klein! Al die rooi klippies het ek opgegaar, En al die varings was vir my gewees Maters wat elke somer moes verdwyn. Vorige Volgende