Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 16] [p. 16] Op die kerkhof Eergister het ek na die plek gegaan, Daar waar die aalwyn en die varkblom bloei, Daar waar die doringboom nooit word gesnoei Waar elke leiklip as 'n grafsteen staan. Dit was al laat; en om my het die maan 'n Silwerlig versprei, soos as jy roei, Die lang, blink sterre in die water groei. Die kerkklok het strak agter my geslaan: Ses, sewe, ag en neënuur; en nou Was alles weer heel stil. Ek dag ek hoor Die aandgebed van elke mug en mot Wat in die maanlig kom vergaadring hou; Hul sing en maak gegons, net soos 'n koor, As lofsang aan 'n onbekende God. As ek nou eenmaal sterwe, as ek is 'n Lyk waarin geen asem en geen krag, Met hande sonder voelte, sonder mag, En met 'n oog wat al sy glinst'ring mis - As ek so lê en self niks kan beslis, Moet julle my nie uit die helder dag Wegslinger in 'n eindelose nag, Wat niks as my verwording vergewis; Want ek wil nie tot duister kerkers keer, Die noue graf vir ewig om my voel! Verbrand my liewers, dat ek boontoe rys, In vuur en vlam kan opklim tot die Heer, Deur al die wêreld se rumoer en woel, Tot oor die drumpel van die Paradys! Vorige Volgende