weet wat al meer wat ons uit bottels en blikkies skraap om op tafel by ons beste skottels te eet.
Ons Bonades is andersgesind. Ons hou van die ou goed. Ons bly getrou aan wat ons voorsate ingestel het. En een van die tannies maak nog egte, ouderwetse atjar.
Juis hierdie maand, in die somer, is die aangewese tyd daarvoor. As ek toevallig in die nabyheid is, dan word ek tuin toe gestuur om die nodige ingrediënte (Tannie sal nooit en nimmer sê ‘bestanddele’ nie) daarvoor in te gaar.
‘Bring tog asseblief nie alte oue mielietjies nie,’ waarsku Tannie, ‘en die murg-van-groentetjies moet nie groter as 'n stuiwer wees nie.’
Wat nie alles in Tannie se atjar kom nie! Klein agurkies, 'n mens kan amper sê met hul moeder se melk nog op hul tandjies - wat natuurlik heeltemal onnosel is, want iemand met tande drink nie meer moedersmelk of behoort dit nie meer te drink nie; klein mielietjies, anderhalf duim lank; jeugdige komkommers, so sag en sappig as hulle maar kan wees; groenboontjies en geelboontjies; klein okkerneutjies; die binneste van harde, bros wit koolkoppe; stukkies spierwit blomkool; groen- en rooirissies; amandels; rosyntjies; appelkose; perskes; nog ver van mondige nartjies; suurlemoentjies; seldery; wortels; rapies; radysies ... feitlik alles wat tuin en vrugteboord oplewer. En tog sug Tannie dat in haar grootjie se tyd daar nog meer bygekom het. ‘Veral,’ sê sy met 'n weemoedige glimlag, ‘die ingelegde bamboes en die jong neute wat hulle uit Indië gekry het.’
Dat dit heeltemal reg is, weet ek beslis. Ons het nog die rekeninge, afkomstig uit Batavia en Colombo, waarin daar melding gemaak word van ‘Bamboesen voor 'n atjahr en vogelnesten uit Tonkin’.
Maar ons het darem ook nog een en ander wat bydra om Tannie se atjar uitstekend smaaklik te maak. Gemmerstronkies, wilde-anyswortel (sy kry dit van 'n meisievriend uit die Hantam) en bitterlemoenskil. Mitsgaders, natuurlik, borrie, 'n rapsie saffraan, uie, knoffel, koljander, peperkorrels, en allerhande neutsoorte.