Verantwoording
Vroeg in 1942 het Leipoldt op versoek van die Redakteur van Die Huisgenoot, destyds mnr. J.M.H. Viljoen, die rubriek ‘Kelder en Kombuis’ onder die skuilnaam K.A.R. Bonade vir die blad begin skryf. Hy het dit, soms met taamlike lang onderbrekings, vyf jaar lank tot kort voor sy dood in 1947 volgehou.
Al die opstelle wat in die rubriek verskyn het, is hier byeengebring, saam met ‘'n Stukkie Kreef?’ wat oorspronklik onder die voorletters J.C.B. in Die Huisgenoot geplaas is. Dié stuk het per abuis nie onder die rubriekhoof verskyn nie. Dit is sonder enige twyfel van Leipoldt, was vir die rubriek bedoel, en word hier op die juiste chronologiese plek ingesluit. Twee opstelle, dié oor ertjies, het in omgekeerde volgorde verskyn, maar word hier gepubliseer in die volgorde waarin Leipoldt hulle geskryf het.
Speels, ondeund, soms moedswillig en wysneusig, is hierdie opstelletjies van die mooiste prosa wat ons van hom het. Die gloed van die herinnering wat daaroor lê, die verlange daarin na 'n tyd en 'n lewe lankal verby, die beskrywings, so vol aandag vir die apostel-egte besonderhede van elke stap in die voorbereiding van 'n gereg - die hele spel met kruie- en speseryname, maak van die beste onder hulle klein kombuispêrels, om sý woord in 'n ander verband te gebruik, wat onmiskenbaar uit die hand van die digter Leipoldt kom.
Dis 'n boek nie in die eerste plaas vir 'n kok of 'n kenner van kos nie, maar vir elkeen wat 'n malse stukkie prosa kan geniet, vir elkeen wat een van ons grootste digters doenig wil sien met 'n ding waarvoor hy sy lewe lank 'n warme, toegewyde belangstelling gehad het.
Jonger lesers moet onthou dat Leipoldt die rubriek gedurende die Tweede Wêreldoorlog geskryf het toe daar allerlei beheermaatreëls in verband met voedsel, vervoer, e.s.m. van krag was - vandaar sy aanmerkings oor regeringsmeel en -brood, vleisskaarste, seepskaarste en petrolrantsoene.
Fred le Roux