54. Sult
By die deurblaai van 'n stokou resepteboek - dit is oor die driehonderd jaar oud en het ongelukkig niks met ons familie te doen nie; ek kan dus nie daaroor spog nie - lees ek terloops: ‘Hierdie gereg’ (dit gaan oor sult) ‘is nie geskik vir 'n deftige tafel nie; die gemene lui egter, vind dit lekker.’
Ek word dus onder die gemene lui gereken. Want daar is, wat my smaak betref, weinig skottels wat ek lekkerder vind as 'n goed klaargemaakte sult.
Die resep van die kok wat nou al driehonderd jaar begrawe lê, is nie juis 'n resep wat ek vandag sou aanbeveel om so 'n pragtige gereg vir die tafel voor te berei nie. Die kok sê: ‘Kook 'n skaapkop, 'n varkkop en vyf of ses hoenderpote ...’ En daar is ertjies by en meel en - wil jy glo? - snippers knoflok en ‘oorblyfsels van 'n gesoute haring ...’ Dit is werklik 'n nagmerrie van 'n sult!
Waar kry ons vandag egte, regte sult soos Ouma dit in die ou dae gemaak het? Ek vrees nêrens nie. Miskien juis daarom kry ons al die growwe namaaksels, soms so hard soos 'n doodgekookte geelbek, soms so taai en onsmaaklik soos groente wat op Engelse wyse gaargemaak is. En die ware Jakob is glad iets anders wat in die mond wegsmelt en die gevoel agterlaat wat die Israeliete glo gehad het nadat hulle die eerste maal hul mannatjies geproe het.
Wanneer daar 'n vark geslag is, dan was dit die bruilof van die werklike sult. Kop, pootjies en uitgesoekte stukkies vleis is saam met lemoenblare, salie, 'n lourierblaar, piment, neutmuskaat, gemmer en soms selfs 'n flentertjie saffraan langsaam en geduldig opgekook in genoeg water om alles te bedek, maar nooit te versuip nie. Wanneer dit so sag gekook het dat die vleis van die bene afval, is dit uit die pot geskep en op 'n skoon laken op die tafel oopgegooi, en ons kinders het meegehelp om elke beentjie, elke taai seninkie daaruit te haal. Dan weer terug in die pot. Tussen Ouma en die ou kok wat ons gehad het, was daar altyd 'n bietjie geharrewar in hierdie stadium van die klaarmakery. Die ou kok