ouerig ook, want sy tande was reeds afgeslyt. Maar hy was spekvet, glad en mooi van uiterlik. Oor die afslag hoef ons nie te versuim nie. My aandeel was die binne-biltong, 'n groot, mooi egaal stuk vleis, of liewer twee stukke. Dieselfde aand het ek dit probeer. Miskien was dit nie regverdig jeens die kwaggavleis nie. 'n Paar dae in die pekel sou dit miskien verbeter het. Maar ek wou die een stuk hê vir biltong, en ek wou kyk watter soort vleis dit was as dit dadelik gebraai word.
Ek het my stuk binne-biltong in behoorlike ‘tournedo's’, of ronde stukke, gesny, elkeen omtrent twee duim dik en 'n hand breed. Hulle is toe 'n bietjie gekap met die hef van die mes en mooi egaal gesny; daarna ingevryf met 'n mengsel van sout, peper, jong blinkblaarlootjies en 'n bietjie wilde-als wat langs die droë rivier gegroei het. Toe is hulle in die oop pan gebraai met 'n lepeltjie botter. Nadat hulle aan albei kante mooi bruin was, het ek 'n kelkie soet wyn oor hulle gestort en hulle daarin 'n rukkie laat smoor. Die resultaat was 'n dosyn tournedo's waaroor, wat uiterlik en aanloklike geur betref, geen Careme ooit sou skaam gevoel het nie. 'n Bietjie gesifte meel en nog 'n kelkie wyn het, van wat in die pan oorgebly het, 'n lekker sous gemaak, waaraan die blinkblaar 'n prikkel gegee het. Op elke ronde karmenaadjie is 'n sag gebraaide stukkie tamatie gesit, en oor alles is die sous gestort. My kwaggavleisskottel was klaar.
By die gaarmaak het ek, soos die gewoonte van 'n goeie kok is, aan die goed in die pan geproe. Dit was heerlik sag, met 'n baie lekker smaak - so sag dat 'n vurk maklik daarin weggesak het. Die sagste hamelkotelet was nie daarmee te vergelyk nie.
Die kampgaste het daarop volgens geaardheid en smaak gereageer. Een van die tannies het haar neus opgetrek en die skerm uitgestap. Haar verontwaardiging het haar verlei tot vergelykings wat nie juis paslik was nie. 'n Kampmaat het versigtig 'n klein stukkie op sy vurk geneem, maar nie sover gekom om daaraan te proe nie. Later was ons bly, want daar was net een stuk vir elke maat, en dus het ons twee meer gehad op die end om onder mekaar te verdeel. Want dié wat kordaat genoeg was om daaraan te proe, het eenstemming akkoord gegaan dat dit eersteklas vleis