aan geur 'n groot verskil maak. Dit is juis hierdie wysigings van die wyn wat in die kookkuns soveel waarde het, want hulle kan gebruik word om sommige skottels, veral dié wat grotendeels uit dierlike proteïnes bestaan, te verbeter wat smaak en geur betref. Byna elke soort vleis, wild sowel as mak, word deur rooi wyn verbeter; taai vleis wat daarin geweek en dan gekook word, is sagter as vleis wat net in water gekook word. 'n Biefstuk wat eers 'n paar uur in rooi wyn lê, win aansienlik wat smaak en sapperigheid betref. En dit het niks met die wyngees, met die alkohol, van die wyn te maak nie. Wyngees stol vleissappe en is dus glad nie geskik om vleis sag te maak nie. Dus gebruik ons 'n rooi wyn wat taamlik laag in alkohol-gehalte is - liefs plaaswyn wat nie versterk is nie. Natuurlik, op die stoof of in die oond verdamp die wyngees gou uit die wyn. Wat agterbly, is die stowwe wat wyn so uiters geskik maak vir kombuis- en tafelgebruik - die amine- en vetsure, die kleurstowwe wat so maklik verander in iets nuuts dat die skeikundiges nie bra weet hoe om hulle vas te keer nie.
Dit was volgens Ouma van moedersy een van die bewyse van grootoom Gieljam se ‘nie-soos-hy-behoort-te-wees-niegeit’ dat hy teen die gebruik van wyn in gestoofde skaapvleis geskop het. ‘En dis die resep wat ons nog vandag gebruik, my kind,’ het die ou dame aan my vertel. ‘Hoe op aarde kan ons dit sonder rooi wyn mooi klaarmaak? 'n Verandering van smaak? Maar natuurlik, my kind; dis mos juis waarvoor ons dit gebruik. Dit maak 'n groot onderskeid, my kind, of jy eers die vleis in die rooi wyn smoor of dit daarsonder klaarmaak.’
Hoeveel plaaskokke besef dit vandag? Ons gebruik allerhande botteltjie-souse, waarvan die meeste van ons nie met sekerheid kan sê wat die bestanddele is nie en - ons verwaarloos plaaswyn. Dis omdat ons volk geen kennis het nie. Ek beweer nie dat die profeet se gevolgtrekking juis is nie. Ons vergaan nog nie. Maar hulle skryf darem baie in die koerante oor die ondervoeding wat, na beweer word, so danig algemeen is, nie net onder die Kaffertjies in die Transkei nie, maar op ons boerplase.
As kok verstout ek my om te sê, pront-uit en met my hand op my hart - ek weet nie juis wat dit beteken nie, want om die waar-