sny van die dik vleis; dit eers marineer in 'n mengsel van wyn en asyn, behoorlik gekruie, en dan in die pan of op die rooster braai. As die vis te klein is vir so 'n spandabele bewerking, kan jy, na afsny van die vinne en aftrek van die vel (wat in geen opsig die moeite werd is om te behou nie), die hele vis eers marineer en daarna in die pan bak, met broodkrummels daaroor. Van sulke stukke kan jy dan eersteklas ingelegde vis maak, met die nodige byvoeging van gebraaide uie en 'n kerriesous. Dus versmaai nie die baber nie, net so min soos die karp.
Ons beste en miskien ons smaaklikste varswatervis is die geelvis, wat deur die hele land bekend is. As sportvis is dit een van ons beste, want 'n geelvis van twee pond of meer kan hard spartel en gee vir die hengelaar genoeg werk om hom met 'n dun lyn aan die wal te kry. Ons braai hom gewoonlik heel in die pan, maar dit is nie die beste manier van doen nie, want hy is vol grate en dis 'n lastige affêre om van hulle by die ete ontslae te raak. In stukke verdeel kan sulke gebraaide geelvis ingelê word, en na 'n paar dae, mits jy goeie asyn gebruik, is die grate sag. Maar niemand wil tog eintlik grate saam met die vleis eet nie. Vir my aandeel dus verkies ek om my geelvis ook eers so in stukke te sny dat ek behoorlik gevormde stukke kry, met so min grate daarin as wat moontlik is. Peper en sout hulle; as hulle nie vet genoeg is nie, lardeer dan elke stuk met 'n repie varkspek en kook hulle in wit wyn, met 'n bietjie foelie of kruie daarin. Of bak die stukke in 'n pan. Wees versigtig dat hulle nie te lank gekook of gebraai word nie, want die smaak van geelvis is fyn, en die vleis vereis net 'n paar minute oor die vuur. Die kundige kok kan hierdie resep op ontelbare maniere wysig. Hy kan die stukke met besondere souse - tamatiesous, sampioensous, kerriesous, ens., - stoof, en op dié manier 'n baie lekker visskottel klaarmaak wat in geen opsig by seevis agter hoef te staan nie.
In sommige riviere kry 'n mens 'n klein vissie, skaars so groot as 'n groterige paddavissie, maar slank en witgrys. Hy het geen algemene naam nie en, sover ek weet, word hy nie geëet nie. Maar hy is darem tog 'n lekker vissie. Ek het hulle al by dosyne beetgekry in 'n kussingsloop wat ek as net gebruik het, en het hulle