50. Ons Wit Wyne II
In die vorige stuk het ek Multatuli se gesegde omtrent misverstand aangehaal nie met bedoeling om te laat veronderstel dat dit nie 'n noodsaaklikheid is om misverstand te beveg nie, maar eenvoudig om te beduie dat ek na 'n keurige middagmaal nie genoeg moed gehad het om 'n twisstryd met 'n koppige kêrel aan te vang nie. Ons wynboere behoort, in hul eie belang net sowel as in die belang van die publiek, met moed en samewerking die stryd teen misverstand oor wyn te aanvaar. Die Bonades ten minste sal hulle manmoedig ter sy staan in elke poging om die publiek op te voed en in te lig oor wyn, wit sowel as rooi.
Hier is nou my korrespondent wat vra: ‘Watter soort, watter merk, wit wyn moet ek aanskaf?’ Dis 'n billike vraag wat deur die wynnywerheid beantwoord behoort te word. In Kalifornië het die wynboere en die wynhandelaars saamgespan om die publiek in te lig. Hulle het 'n som geld opsygesit vir stelselmatige propaganda. Daaronder verstaan hulle praktiese voorligting soos bv. die uitreik van wynlyste aan elke biblioteek, waarin die merke, met besonderhede omtrent die spiritusgehalte en die persentasie suur van die wyn, aangegee word. Iets van dié aard het ons hier nodig.
Ek weet van slegs een restaurant in die land wat 'n min of meer volledige lys van inheemse wyne voor sy gaste lê. Selfs hierdie lys is nie volledig nie: 'n paar merke ontbreek, en die inligting wat verskaf word, is nie heeltemal juis nie; is vatbaar vir misverstand. Maar ek sien dat daarop 14 verskillende merke van wit wyne voorkom, en hulle is algar, altans binne die perke waarvan ek in my vorige stuk melding gemaak het, goeie, deeglike, drinkbare wyne. Daar is geeneen wat voor 1938 gemaak is nie; hulle is dus algar betreklik jong wyne, en om die waarheid te sê, byna al die merke wat nou in die handel voorkom, is, hoewel nie juis onryp wyne nie, tog nog jeugdige wyne. Hier kan ek nie melding maak van partikuliere merke nie, om redes wat my lesers goed sal verstaan, maar ek verklik geen geheim nie as ek verwys na die wit wyn van