breed groot en 'n duim dik’. Hulle word op 'n laag warm as wat nog hier en daar 'n kooltjie wys, gelê en meer warm as word oor hulle geskraap. Daar moet hulle bly bak totdat albei kante, bo en onder, mooi hard is. Dan neem jy hulle uit, vee soveel van die as weg as wat jy kan en bedien dadelik. Die kampgas sny elke koek oop met sy knipmes - met sy herneuter, soos die oumense dit genoem het - en bestryk die binneste met botter, as hy dit het; as hy dit nie het nie, kan hy sous daarby gebruik.
Teenswoordig gebruik ons die rooster vir askoek, met die gevolg dat ons askoekies nie juis egalig hard gebak word nie, maar dit maak nie veel saak nie. Hoofsaak is dat die buitenste van die koek bros hard moet wees, terwyl die binneste sag, droog en delikaat bly. Sommige resepte sê die deeg moet met melk aangemaak word; dit maak die binneste 'n bietjie klammerig, maar miskien lekkerder. Dit is egter glad nie nodig om vet of eierdooier by te voeg nie, want as dit gedoen word, is die askoek nie meer askoek nie, maar 'n asbolletjie, 'n verfynde iets wat nie goed pas by die kampstemming nie, waar eenvoud 'n belangrike oorweging is.
As nagereg vir 'n kampvuurmaaltyd is daar miskien niks beter as pannekoek nie. Die deeg daarvoor is maklik genoeg om aan te maak: 'n bietjie fynmeel, 'n grypie sout, 'n paar geklitste eiers, en genoeg melk - dit kan blikkiesmelk wees, as daar nie vars melk te kry is nie - om daarvan 'n dun deeg te maak, so dun dat dit maklik van die lepel afdrup. Die pan moet liefs 'n klein pannetjie wees, nie meer as nege duim wyd nie, en die vuur moet goed warm wees. Sit genoeg vet in die pan om die oppervlakte daarvan nat te maak as dit smelt en laat dit goed warm word, totdat dit begin te rook. Plaas dan daarin 'n eetlepelvol van die dun deeg en skud die pan sodat die deeg egalig die hele bodem van die pan bedek. As die vuur warm is, duur dit skaars 'n minuut voordat die pannekoek klaar gebak is, en as die laag deeg dun genoeg is - soos dit dan ook behoort te wees - is dit nie eens nodig om die pannekoek om te keer nie. Die kunstenaar-pannekoekbakker doen dit maklik genoeg, òf met 'n mes òf deur die pannetjie behendig te skud, maar hierdie laaste handgreep vereis kennis en kuns, en as jy nie daarin bedrewe is nie, val die koek gewoonlik