Daar is byvoorbeeld die vleisgeregte. Wat die mansmense skiet, voëls of wild, het altyd 'n dag of wat bly hang. Die uitsondering was patryse en dikkoppe, wat dadelik skoongemaak is en dan met varkspek, sout en kruie en 'n bietjie plaaswyn in die ysterpot gekom het om met die vuur daaronder en kole daarbo, mooi te stowe totdat dit etenstyd was. Op so 'n manier klaargemaak, is selfs 'n bleshoendertjie 'n lekkerny.
'n Haas het ons altyd volgens plaasmanier opgedis. Dis glo 'n wysiging van een van die alleroudste resepte, maar dit verskil ten enemale van die ‘hasepeper’- en gestoofde haas-resepte waaroor in die kookboeke geskryf word. Ons het die haas altyd in rafeltjies gekook, of liewer gesmoor, met uie en kruie en 'n kelkie wyn, en op dié manier was dit so teer en smaaklik soos jy dit maar kon wens. Die wildvleis is altyd in die ysterpot gebraai, min of meer op dieselfde manier soos ons met die voëls gehandel het. In Transvaal het ek gesien dat die tannies dit soms in 'n miershoopoond bak, maar dit het my nie aangestaan nie, en daar spek hulle ook nie die vleis behoorlik nie. Ons wildbokvleis is byna altyd te maer om sonder spek geëet te word, hoe meer en hoe deegliker dit gelardeer word, des te beter.
Mak vleis, of dit nou skaap- of varkvleis mag wees, is wat die kamplewe betref altyd op sy beste in die gedaante van karmenaadjies. Om hulle behoorlik gaar te maak, het jy 'n warm vuur nodig, van hardekool in Transvaal of van doringboomhout, en hier in die suidelike geweste van enige hout wat mooi kole maak. Ons het in die Kaapprovinsie die voorreg dat ons oor die kole 'n laag renosterbos kan plaas, wat aan die karmenaadjie 'n eienaardige geurige smaak verleen, maar dit is 'n raffinement wat by die meeste kampeerplekke ontbreek, en as plaasvervanger daarvoor kan ons die vleis invrywe met kruie, na verkies word. Maar kies jou karmenaadjies goed en sorg dat hulle sag en teer is. Klop hulle eers met 'n skoon stukkie klip of met 'n stuk hout - nie te hard nie, want jy moet nie die weefsels stukkend slaan nie; jy moet hulle net 'n bietjie kneus om die styfheid daarvan weg te kry. Sout hulle in; 'n grypie fyn gemmer in die sout kom van pas, en sommige mense hou baie van koljander of anyssaad. Droog hulle