45. Ons Daaglikse Brood
Nou dat die oorlog verby is, sal ons miskien weer brood kry. Wat ons vandag in die plek daarvan kry, is ... Nou ja, die Bonades is nie geneig om te skel nie, hulle ly liewers in stilte. Sê Salomo dan nie: ‘'n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar 'n wyse bring dit tot bedaring’?
Ek wil maar net sê dat ek tog nog soms goeie brood eet. As my rantsoen petrol dit regverdig, ry ek plaas toe. Tannie beskik nog oor suiwere, egte plaasmeel wat gemaal word in die ou eselmeul - 'n affêre wat nou so skaars is soos 'n meisiekind wat tevrede is met die soort naels wat ons Liewe Heer haar gegee het. En sy - ek bedoel Tannie natuurlik, nie die hedendaagse waboomloogagtige meisiemense nie - sif dit ook soms en kry op dié manier eersteklas fynmeel. Ek weet nie of dit onwettig en strafbaar is nie, maar as ek in haar skoene was, sou ek dit ook doen. Want ek weier eenvoudig om brood van ons oorlogsmeel te maak. Dit is ... maar wat sê Salomo?
Wat is daar tog heerliker, geuriger, gesonder, aantrekliker as nuutgebakte plaasbrood? Met plaasbotter daarop, of sagte vet - ek verkies die pragtige, geelbruin sagte vet wat oorbly nadat 'n spekvet hoenderhen in die braaipot tot 'n geseënde spysoffer gemaak is; dit het 'n smaak wat enig is, en met 'n snytjie biltong daarop - wat op aarde kan die fynste lekkerbek beter kry of verwag? Van gesifte meel is die brood altyd mooi wit; van ongesifte verskil dit van kleur. Tannie s'n is gewoonlik 'n grys-geel, korrelrig, met die kors - aai, die kors! Daarvoor het 'n mens meer as een uitroepteken nodig. Want die kors is tog een van die belangrikste bestanddele van 'n goeie brood. Dit is soms die bros velletjie van 'n geroosterde speenvarkie - of behoort altans so te wees. Helaas, in die stedelike brood wat ons kry, is dit soos ... as ek maar die ou koning se berisping in herinnering kan bly hou.
Tannie het haar eie, geheime manier van broodbak, en ek sal dit nie hier verklik nie. Maar eenmaal het ek self probeer om op