op ons afgekom met die berig dat daar die middag oesters in voorraad was. Ek het sonder om na te dink twee dosyn bestel. Kleinjan, nieteenstaande sy traak-nieagtige, jy-sal-my-nie-imponeerhouding, is tog onder die indruk van die omgewing in die klub, en sy lewendige gesels het so 'n ietsie bedaar. Toe die oesters kom, het hy hulle bekyk soos 'n Kalahari-Boesman wat die eerste keer in sy lewe 'n motorfiets sien.
‘Wat op aarde is dit nou, Omie?’ vra hy, en ek verbeel my dat sy wipneus 'n paar sentimeter hoër wip.
‘Oesters, man. Die allerbeste soort. Ons is gelukkig dat ons dit vandag kry. Die goed gaan gewoonlik reguit Johannesburg toe, en dis selde dat ons hier geleentheid kry om hulle te eet ...’
‘Eet, Omie? ... Si ...’ Sy hoflikheid het die woord binnensmonds afgebyt net toe ek my eerste oester, behoorlik met 'n druppel suurlemoensap gedoop, insluk.
‘Natuurlik. Kyk, jy neem hulle so,’ en ek wys hom. Ongelukkig het sy oester, wat ek besig was om te bedrup, net op daardie oomblik krampagtig 'n stuiptrekking gekry.
‘Maar gits, Omie, die ding lewe mos ...’
‘Ek sou so dink. Dooie oesters eet 'n mens nie, dis te gevaarlik. Kom, wees nou nie so kinderagtig nie. As jy dokter wil word, moet jy jou gewoond maak om alles te probeer, en ek gee jou my woord jy sal hiervan hou. Dè, sluk dit nou in ...’
‘Ag nee, Omie. Omie moet my verskoon. Dit lyk vir my ... dit lyk vir my net soos 'n dermskraapsel.’
‘Nou ja, jy het al dermskraapsels geëet, of het jy nog nooit wors geëet nie? As jy nie wil nie, gee my dan jou oesters; ek sal hulle vir jou opeet, en jy kan vir jou sop bestel. Maar ek moet sê, Kleinjan, ek het gedink dat broer Jan se seun sy man kan staan, selfs as dit op oesters daarop aankom.’
Kleinjan het nie sop bestel nie. Hy het 'n teug van sy bier gedrink en my met sy oë - nou nie ondeund nie, maar regtig bang asof hy 'n mensvretende omie teengekom het - gevolg toe ek een na die ander oester verslind. Eers teen die end en nadat ek hom verskeie keer gesê het om iets vir homself te bestel, het hy amper in 'n fluisterstem gevra: ‘Omie, is dit werklik lekker?’