bysmaak of aantreklikheid gee, soos blomme, ryp vrugte of kruie. Sulke mengsels kan soet gemaak word deur byvoeging van suiker, stroop of moskonfyt. As 'n swaarder mengsel verkies word, dan kan 'n bietjie brandewyn of 'n kelkie likeur bygevoeg word, maar dan moet die verbruiker versigtig wees, want so 'n mengsel is uiters verleidelik. My ou tannie het verskillende resepte vir sulke mengsels - wat vir ons jongmense op verjaarsdae en feesdae voorgesit is - in haar handskrif agtergelaat. Daaruit skryf ek die volgende twee oor:
Moerbeidrank: Neem twee koppies vars moerbeie, skoongemaak, en stamp in die vysel met twee eetlepels bruin suiker; gooi daaroor 'n bottel rooi wyn. Roer goed en sit voor die venster (of liefs in die yskas). Vir gebruik, sit in 'n kan en roer 'n grypie neutmuskaat, gemmer en foelie in; gooi ses bottels sodawater oor en bedien in glase met 'n paar moerbeie in elkeen.
Ek sou meer suiker gebruik, maar dit is 'n kwessie van smaak. Dit is egter 'n goeie, plesierige drank en is net so aangenaam vir die smaak as dit vir die oog is.
Die ander resep is nie juis vir kinders nie, en is min of meer 'n soort pons wat vir die meeste mense ook veels te soet sal smaak.
Appelkoosdrank: Skil en pit drie dosyn appelkose van middelmatige grootte; kraak 'n halfdosyn van die pitte en neem die wit daarvan, kneus dit en sit by die geskilde appelkose; gooi 'n koppie goeie brandewyn oor; meng met twee koppies wit suiker en klits goed deurmekaar; laat staan 'n paar uur en gooi dan twee bottels wit wyn, 'n koppie gemmerstroop, 'n kelkie Van der Hum en twee kelkies soet wyn oor. Klits weer goed deurmekaar en laat staan tot dit sak. Gooi af sonder om die afsaksel te verroer en meng dit met twee bottels sodawater. Bedien met 'n stukkie ys in elke glas. Dit smaak nog lekkerder as dit van gedroogde appelkose gemaak word.
Daar is 'n menigte sulke vrugte-wyn-mengsels, maar dit is 'n vraag of hulle op die ou end beter is as 'n goeie kelkie wyn op sigself. Daar die gasheer en die gasvrou op Kersdag egter vir algar moet sorg, is dit wenslik dat hulle met die maak van hierdie