een maal opkook. Haal af en voeg by - versigtig en onder gestadige roer, anders skif dit - die geel van drie eiers. Neem af van die vuur en klits gedurig; as dit te dik is, verdun met water. Sit in die koelkas en bedien as dit mooi koud is, met amandelbeskuit daarby. Hierdie sop is maklik genoeg om te maak, maar as ek dit nie self maak nie, is dit gewoonlik 'n volslae mislukking. Daar is 'n slag om die eiers in te klits.
Tydens my buitelandse reise onder die koks het ek 'n koddige soort koue sop teëgekom. Hulle noem dit 'n Gaspasho ... eintlik 'n mengsel. Ek hou baie daarvan, veral as ek op die plaas is in die wintertyd, wanneer daar geleentheid is om allerhande veldkos daarin te sit. Maar ek moet erken dat dit 'n aangeleerde smaak is. Tog, dié wat gewillig is om 'n nuwigheid te probeer, kan dit op die volgende manier verkry:
Neem 'n handvol van enige soort kruie wat daar beskikbaar is - hoe verskillend hoe beter. U kan byvoorbeeld die volgende neem: tiemie, kruisement, roosmaryn, beetblare, slaaiblare, mosterdblare, suringblare, binneblare van 'n kool - enige soort, in kort, wat as slaai kan dien. Ook jong uie of prei, jong geelworteltjies, 'n melerige appel; kerwe of rasper alles goed fyn en meng. Roer nou in, druppel vir druppel, 'n mengsel van twee lepels goeie slaai-olie en een eetlepelvol wynasyn (moet tog nooit die wit winkelasyn gebruik nie; dis pure asynsuur, waarskynlik van hout gemaak) waarin jy eers 'n teelepeltjie fyn sout opgelos het. Roer alles deeglik deur - hoe meer jy roer, des te beter. Gooi dan vier koppies water oor en roer weer goed. Sit in die koelkas en bedien met stukkies geroosterde brood, of - wat ek verkies - met kaaskoekies. 'n Bietjie meer olie kan soms gebruik word; dit gee die sop 'n stewiger smaak. Maar die groot geheim is om al die kruie, al die elemente wat daarin voorkom, sodanig te kneus dat hulle hul geur en genotvolle sappigheid aan die sop oorgee. As een daarvan te veel baasspeel, dan is die omroer en deurmekaarmakery nie deeglik genoeg nie. Dit behoort 'n behoorlik ‘gesnyde’ mengsel te wees waarin al die geure geproe kan word sonder dat een daarvan diktator is.
Daar is mense wat eers hierdie mengsel opkook, dit dan deur 'n doek gooi en daarna eers in die koelkas sit. Dan is dit egter net