wat ons hulle in die kombuis kan gee. Neem die jongeres wat stewig, sappig en jeugdig-windmaker is. Daar is verskillende soorte. Die beste is miskien dié wat regtig wit of roomkleurig is, maar hulle kom selde op die mark. As jy hulle nie self kweek nie, is daar skaars 'n moontlikheid om hulle in die hande te kry. Die tweede beste is die middelslag-langwerpige soort, persblou, met skakerings van rooi-bruin hier en daar. Daarna kom die middelslag-groot rondes wat bruin van kleur is. En laaste die groot bruin- of pers-rooi rondes, soms so groot soos 'n voetbal.
Skil die brinjal fyntjies af. Die kookboeke sê jy moet dit met 'n skerp mes doen - wat moontlik is, maar moeilik. Jy kan hom ook in kokende water sit en sy velletjie dan aftrek, iets wat glad nie so maklik is as bv. met 'n tamatie nie. En, les bes, jy kan hom met skil en al kook, maar die skil is altyd hard, dit kom nie daarop aan op watter manier jy hom gaarmaak nie. Dus pleit ek vir die skerp mes.
Sny die brinjal nou in skyfies en lê die skyfies op 'n droë doek. Strooi oor hulle 'n bietjie fyn sout en laat hulle dan rustig 'n halfuur langer lê. Teen dié tyd sweet hulle en word papnat. Droog hulle nou mooi af, en dan is hulle gereed om gekook te word.
Op watter manier? Braai? Nou ja, dan het jy kokende vet of olie nodig waarin jy hulle dompel - liefs in 'n draadmandjie - en laat braai totdat hulle mooi bros is. Dit is die manier waarop die Italiaan baie van sy sapperige groente - murg-van-groente, brinjals, komkommers, pampoen - gaarmaak. Die resultaat is 'n dun bros skyfie, net soos 'n skyfie aartappel wat kraak-bros gebraai is. Strooi fyn sout oor en bedien op 'n servet. Of jy kan die skyfies in botter of vet in 'n pan braai, 'n bietjie minder bros, maar met meer geur. Strooi fyn gesnipperde pieterselie oor en dons met witpeper.
Albei is eenvoudige maniere van doen, maar nie een van die twee bring die werklike fyn smaak van die brinjals te voorskyn nie. Dit kry jy alleen as jy hulle stadig stowe, met of sonder botter. Sit die skyfies in 'n pot of diep pan - 'n erdekastrolletjie is miskien die beste - en voeg by sout na smaak, 'n grypie fyn gemmer, 'n rafeltjie foelie, soveel peper as jou smaak verkies en 'n groot