onvervalste gedaante helaas nou selde aangetref word. Wat onder daardie naam amok loop, is gewoonlik in 'n meul gemaalde vleis van die taaiste soort, gemeng met te veel broodkrummels, 'n ietsie koljander en sout en peper. Ek stem volkome saam met my ou tannie wat dit die ander dag op 'n braaivleisaand gekry en wrewelig weggestoot het met die verwyt: ‘Dis mos nie wors nie, dis sommer gemors!’ Want sy is self 'n eersteklas worsmaker. As ek by haar wors gaan eet, dan onthou ek my die dag tevore van alle spys, want ek weet ek sal te veel smul van die kostelike gereg wat sy my sal voorsit, saam met tuisgebakte wit brood (in haar huis kry 'n mens nie regeringsbrood nie, maar die opregte wit plaasbrood, krummelrig en sag en maklik verteerbaar) of met 'n porsie paprys.
‘Jy weet, kind,’ sê sy, ‘boerwors moet van gehakte vleis gemaak word, baie, baie fyn gehak, met uitsondering van die spek. Die spek moet in klein dobbelsteentjies gesny word en by die gehak kom. Dan, my kind, as ons dit op die rooster of op die plaat braai, smelt die vet self uit en hou die wors mooi klam. Ja, my kind, hy moet klam wees, maar bros, so bros dat sy buitenste kraak as jy hom eet.’
Presies. En dis nie net fyn gehakte vleis wat daarby tel nie. My ou tannie neem altyd 'n bietjie vark- en skaapvleis by, ofskoon die fondament van haar boerwors beesvleis is. En nie die afvalvleis nie. Nee, uitgesoekte dik, sagte lende- of boudvleis, en eersteklas varkspek. Die vleis word fyn gehak, dan fyn gemaal, soms selfs in die vysel gestamp; die spek word opgesny in dobbelsteentjies en rafeltjies, wat dan by die gemengde vleis gevoeg word. Dan kry die mengsel sy ‘opskiksels’. 'n Kelkie wyn, 'n kelkie asyn, 'n eetlepelvol brandewyn; sout na smaak. (Altyd 'n bietjie meer as wat myns insiens werklik nodig is, want te veel sout beïnvloed die smaak van die kruie, maar op hierdie punt wil Tannie nie na my luister nie. As ek uit my kookboeke aanhaal, dan sê sy eenvoudig: ‘My kind, ek hou my aan die gebod van Moses wat sê: “Jy mag nie die meerderheid volg in verkeerde dinge nie”.’ Wat durf 'n mens dan sê?) En dan koljander (skoon, nuwe saad, sonder die minste spoor van kalanders), peper, 'n grypie gemaalde gemmer,