Dit is egter beter om die druppel gesmelte suiker in 'n koppie water te laat val; dan loop jy geen gevaar om 'n brandblaar aan jou vingers te kry nie. Maar die eerste was sy manier van doen, en as ek nou tameletjies maak, dan volg ek dit onbewus, afskoon ek goed weet dat dit nie volgens die reëls is nie. Die doel is om te oordeel of die suiker tameletjie-punt bereik het; dit is ietwat hoër as ‘fondant’-punt en ietwat onder karamel- of brandpunt. Nogtans, vir 'n goeie tameletjie moet daar 'n ietsie karamel of gebrande suiker in die eindresultaat wees, en dit is dus 'n kenner wat die saak moet beslis.
Intussen het ons die dennepitjies gekraak, die pitte uitgehaal, hul omhulsels afgehaal en elke pit in die helfte gesplits. Soms ook 'n paar amandels as dit te kry was. Maar die amandels moes eers ook onthul word, wat maklik genoeg is as jy hulle eers in warm water steek, maar nie so vinnig gaan as jy jou tande of jou vingers daarvoor moet gebruik nie. Ons leermeester het altyd 'n grypie gestampte pypkaneel - ek vermoed nou dat dit eintlik kassia was en nie egte pypkaneel nie, want dit was destyds peperduur - byderhand gehad, en as ons van Ouma uit haar spens 'n paar groenamandelneute (‘pistachio’) kon afsoebat (wat soms geluk het, ofskoon hierdie spesery so te sê van onskatbare waarde was) dan het ons dit bygedra.
As die gesmelte suiker presies was wat hy moes wees, het Stomparmpie die pannetjie oor die skoendoosdeksel gehou en 'n dun laag daarin laat drup. ‘Gou nou met die pitte,’ was sy waarskuwing, en daarop het ons 'n strooisel van wat klaar gemaak is op die laag suiker gelê, waaroor dan die pypkaneel (ofte kassia) gestrooi is. Dan 'n rukkie wag, met die pannetjie weer bo die vuur om die suiker in toom te hou. Daarna weer 'n laag suiker, hierdie keer tot bo, en daarop die res van die pitte. Binne 'n paar minute was die tameletjie kliphard. Dit kon nou uit die skoendoosdeksel geneem word - 'n pragtig deurskynende, topaaskleurige lekker, met die pitte daarin soos wit vlekke in 'n stuk Amandola-marmer. En dit het so goed gesmaak as wat 'n tameletjie maar kan.
Vandag kry ons lekkers wat by die ton vervaardig word. Masjiene vorm en verdeel hulle. Allerhande skeikundige produkte