36. Groen-Ertjies
Die peulvugte is miskien die oudste kos wat aan die mensdom bekend is.
My ou tannie, wat oor my skouer kyk onderwyl ek skryf, skud haar kop.
‘Sover ek verstaan,’ sê sy op die nare, soetsappige manier wat sy het wanneer sy my wil verpletter, ‘het ons liewe Heer gesê dat Hy die plante wat saad gee en al die bome waaraan daar boomvrugte is, vir ons gegee het as voedsel. Dit sê mos so in Genesis I vs. 29.’
‘Heeltemal reg, Tannie,’ antwoord ek, nie uit die veld geslaan nie, ‘maar Tannie vergeet dat peulvrugplante ook saadplante is, en die wetenskaplike wysneuse beweer dat nie grasplante, soos koring en rog nie, maar peulvrugplante, soos lensies en ertjies, ons allereerste kos was.’
‘Hulle sê baie,’ snou Tannie my toe. ‘Vandag praat hulle oor vitamines, waarvan die Heilige Skrif niks af weet nie. Alles sommer gesegdes.’
‘Ek stem volkome saam wat die vitamines betref, Tannie. Maar asseblief nou ... ek moet hierdie stuk klaar hê voor vanaand ...’
Terloops, Tannie is een van die weinige kokke wat ek ken wat weet hoe om met ertjies te werk. Ek het dit aan haar te danke dat ek tussen ertjies en ertjies kan onderskei en goed die verskil leer ken het tussen ertjies wat die naam werd is en ertjies wat net so goed akkers kon gewees het.
Kook-ertjies, ertjies wat geskik is vir die tafel, is jong ertjies; nie dié wat gewoonlik as kook-ertjies aangebied word en waarvoor 'n mens in hierdie dae van gekontroleerde groente deur jou nek moet betaal nie. Regte kook-ertjies is jonk, sag, maagdelik groen, sappig en mollig. Jy kry hulle gewoonlik net as jy self 'n ertjiery in jou tuin het. Wag nie totdat die peule dik en vet is nie; hoe minder die peul op 'n watersugtige skepsel se dybeen lyk, hoe beter geskik is hy vir die pot. Waak dus sorgvuldig oor die