35. Seekos III
Onder die geliefkoosde ‘strandkos’ van my jong dae was perdevoetjies miskien een van die populêrste. Dit het minstens een maal in die week op tafel gekom op al die ou strand- en uitlêplekke wat destyds in die mode was. Perdevoetjies was oral volop; jy kon hulle groot of klein met 'n bietjie moeite van elke klip wat met laagwater bereikbaar was, met 'n stomp mes of 'n stuk doringdraad afhaal. Die outas en aias het hulle vir 'n trippens die halfemmer verkoop, en vir 'n ekstra pennie die kooksel skoongemaak vir die kok.
Teenswoordig is dit nie alte maklik om eetbare perdevoetjies te kry nie - ek bedoel dié wat in die see groei. Die ander soort, wat ook op rotse langs die riviere te vinde is, kan nie as eetbaar beskou word nie; hulle is vetplante en nie diere nie. Die seeperdevoetjie is 'n eenskulpige dier met 'n taamlike dik suier, en dis hierdie suier wat ons eet. Die dier word uit sy skulp gehaal, die ingewande uitgekrap, en daarna word die suier met 'n stuk hout geklop totdat dit sag is. Die prosedure van klaarmaak is grootliks net soos dié vir klipkous, met die verskil dat ons met gestoofde perdevoetjies allerhande speserye en soms ook groente - porslein, byvoorbeeld, maak 'n eersteklas byvoegsel - bysit. Die ou aias het beweer dat vir egte perdevoetjiebredie 'n snyseltjie wildevinkelwortel onmisbaar is. Ek erken dat dit aan die gestoofde perdevoetjies 'n besondere bysmaak verleen wat dit verbeter: maar waar kry 'n mens vandag wildevinkelwortel? Sekerlik nie in 'n stad of op 'n dorp nie. As jy dit wil hê, dan moet jy dit self gaan soek en uitgrawe, en glo vir my, die uitkry daarvan is geen kinderspel nie.
'n Perdevoetjiebredie moet lank en stadig stowe; seker twee, drie uur op 'n milde vuur is nie te lank nie. Ook hierin verskil dit van klipkous. Maar weer - geen water en geen sout voordat die perdevoetjies sag is nie. As dit goed klaargemaak is, dan is perdevoetjies heerlik sag, amper soos goed klaargemaakte dik afval wat in melk gestoof is. As dit egter sleg klaargemaak is, dan is dit 'n