32. Melkkos
Een van my lescrs skryf om te vra of ek nie ‘'n bietjie foutief’ is toe ek onlangs gesê het: ‘die voedselwaarde van aartappels is uiters gering - omtrent net so veel as dié van melk.’ Hy vra: ‘Is melk dan nie die voedsel wat vitamines A, C, B en D, feitlik alle minerale, 3 persent proteïne, 4 persent suiker, 3 persent vet, en feitlik alles wat die liggaam het, bevat nie? Om dit met aartappels te vergelyk, wat feitlik net uit stylsel bestaan, is myns insiens 'n bietjie verkeerd.’
Ek kan net as kok praat. Oor die gesondheidswaarde van kossoorte kan ek nie beslis nie. Uit die kok se oogpunt beskou, beteken vitamines niks nie; die kok bekommer hom nie daaroor nie, en net so min die gas vir wie hy die kos voorberei. Sover ek weet, word die meeste sogenaamde vitamines omgeset as hulle aan hitte blootgestel word. Dus, weer uit die kok se oogpunt beskou, is hulle net nuttig as die kossoort rou of half-rou geëet word.
Maar oor voedselwaardes moet elke kok iets weet en verstaan, en daar is nou hoegenaamd geen meningsverskil oor die geringe voedselwaarde van aartappels en melk nie: honderd gram melk het 'n voedselwaarde van presies 65 kalorieë; honderd gram aartappels het presies 76 kalorieë. Daar is dus weinig verskil. In 100 gram aartappels is daar 78 persent water, 1.8 persent proteïne, 17.2 persent koolhidraat, 1.1 persent eter-ekstrakte (vette), 13 milligram ystersoute, .51 milligram fosforsoute, en soortgelyke nietige ander mineraalsoute. In 100 gram melk is daar 87 persent water, 3.3 persent proteïne, 4.6 persent koolhidraat, 3.2 persent vette, 120 milligram kalksoute, .1 milligram ystersoute en .95 milligram fosforsoute. Daar is dus nie baie verskil tussen die twee nie, behalwe dat die fosfor in melk in 'n vetverbinding voorkom en dat melk dus 'n groter hoeveelheid vetsure bevat. Dis al.
Melk is iets waarsonder geen kok kan klaarkom nie, want dit is een van die beste emulsies wat ons besit. Maar dit is ook een van die duurste voedselsoorte waarvan ons gebruik kan maak, 'n voed-