31. Kambro en Baroe
Teen die end van die vorige eeu toe Kaapstad nog sy mooi groentemark gehad het, wat 'n aantrekkingsplek vir elke besoeker en 'n goedkoop winkel vir elke huishoudster was - iets wat ons nou, ten spyte van ons hoëre beskawing en kwaai verhoogde stedelike belastings, nie meer geniet nie - was daar nog kans om kambro en baroe in ons hoofstad te koop. Vandag nie meer nie. As ons dié lekkernye wil kry, dan moet ons sestig, tagtig myl ver loop om dit te haal. Daar groei eersteklas kambro op die Worcesterse dorpsveld; ook in die Karooveld naby Citrusdal is dit volop, maar ek weet nie van ander plekke waar dit - ten minste van so 'n aard dat 'n kok dit kan gebruik - verkry kan word nie. In ons Kaapse skiereiland kom daar wel niggies en nefies voor wat klein en niksbeduidende bolletjies het. Maar die egte, regte kambro groei op Karoogrond, kleigrond, en is daar op sy beste.
Dis 'n tingerige, nietige rankplant met klein, geelgrys blommetjies en melk in die stengels. Daarom vreet die vee dit nie maklik nie, maar tog, in die droë tyd, word die blaartjies afgekou. Die plant besit sy voedselvoorraad in sy bol, wat so groot soos 'n klein komkommer tot 'n middelslag waatlemoen word. Een van die grootste wat ek teengekom het, is tentoongestel op die stoep van die ou Withuis in Strandstraat en het die bewondering van Cecil Rhodes, oubaas Merriman en Jan Hendrik Hofmeyr afgedwing toe hulle op 'n middag daar kom eet het. Dit was byna drie voet lank en amper agttien duim in deursnee. Verlede jaar het 'n vriend my een gestuur wat amper net so groot was, maar dit was voos en nie die moeite werd om te kook nie.
Dit is die ondergrondse knol, net soos 'n patat, wat die kenner as die lekkerny beskou. Eintlik is dit niks anders as 'n saamsmelting van plantweefsels wat water bevat nie of liewer 'n oplossing van allerhande stowwe wat aan die kambrobol sy eienaardige smaak gee. My ou vriend, dr. Marloth, het dit ontleed en my vertel dat die voedselwaarde grotendeels bestaan uit 'n sekere