30. Kruie in die Kombuis
Onlangs het ek op 'n boereplaas die middagmaal geniet. Dit was 'n gewone, eenvoudige boere-middagete. Hier is die spyskaart:
Boontjiesop. Gebraaie skaapboud. Papgekookte rys, gekookte aartappels, gestoofde groenboontjies en beetslaai. Gestoofde droëperskes met vla. Koffie.
'n Doodgewone middagete soos ek seker al honderde male op ander boereplase geniet het. Maar hierdie een sal in my herinnering bly, omdat die tannie wat dit klaargemaak het 'n kunstenares in die kookkuns is. Selde het ek kos geëet wat so deeglik gaargemaak en vir die tafel voorberei was as op daardie namiddag. Die sop het varkspek bevat, net behoorlik gesout, en daar was 'n bietjie preiblaar in; die beetslaai, alhoewel sonder olie, het fyngemaakte pieterselie daarby gehad; die aartappels, pragtig melerig gekook, het juis die behoorlike soentjie van botter en neutmuskaat gekry; die boontjies het 'n heerlike eiersous gehad; die gestoofde droëperskes is op die ou manier klaargemaak, met 'n stukkie pypkaneel en 'n skraapseltjie nartjieskil en 'n kelkie soet wyn. Selfs die rys was eersteklas, met net genoeg sout om dit nie te bederf nie. Wat my egter veral getref het, was die gebraaide skaapboud. Dit het 'n besonder aangename bysmaak gehad en was daarby so sapperig dat ek werklik, as ek nie na die been gekyk het nie, sou gesê het dat dit 'n bloedjong lammetjie was. Maar dit was die boud van 'n volwasse skaap en ook nie alte vet nie.
‘Nee, meneer Bonade,’ het die tannie later aan my gesê, ‘dis nie die hang nie. Ek hou nie daarvan om my vleis lank te laat hang nie, en veral nie skaapvleis nie. Dis net in die braaipot gebraai, nadat ek 'n bietjie koljander en salie ingevryf het. Oorlede moeder het dit altyd gebruik met 'n bietjie fynmeel, en ek hou ook daarvan om kruie by te sit waar dit kan.’
Later het sy my haar kruietuintjie gewys. Onder 'n ou appelboom in die groentetuin, waar dit hoort, langs boerboon, kom-