geval is. Sommige soorte is reeds populêr; ander is minder bekend en word nog met 'n sekere mate van vooroordeel bejeën. Wat nie billik en regverdig is nie, want die bekwame kok kan hulle tot smaakvolle skottels verwerk wat, veral in hierdie tyd van gekontroleerde voedsel, in aansien behoort te wees.
Neem byvoorbeeld so 'n algemene seekos as arikreukels. Elke kind ken hulle nadat hy een of twee maal langs die strand gespeel het. Hulle is skulpdiere waarvan die voedselwaarde amper net so hoog is as dié van hoendereiers. Jy kan hulle rou eet, met of sonder 'n suursous. Jy kan hulle stoof, met of sonder speserye, uie of wat jy ook daarby verkies, tot 'n smaaklike ragout. Die hoër aristokrate van hul familie - mossels, oesters, perlemoen en omtrent 'n twintig ander soorte - is miskien nie so volop nie, maar met 'n bietjie moeite en geduld is hulle ook te kry. Ek onthou hoe ek as kind in die ou groente- en vismark in Kaapstad meer as 'n dosyn soorte gesien het. In dié dae was seekos iets waarvan die oumense baie gehou het. Op Vrydae kon jy dit na hartelus geniet in die Withuis in Strandstraat, en op Kalkbaai was daar 'n plek waar die kok dit besonder smaaklik klaargemaak het.
Sommige mense beskou seekos met teësin. Dit is vir hulle te papperig. Die bekwame kok weet egter goed om hierdie papperigheid so te neutraliseer dat dit sy afstootlikheid verloor. 'n Oester wat rou geëet word met suurlemoen en peper is wel papperig. Gebak in 'n korsie van tien maal uitgerolde deeg is dit iets glad anders. Net so as dit omgeskep word tot 'n heerlike oestersop, met room en melk en 'n bietjie gerasperde kaas daaroor. Die kenner verkies om sy oesters rou te eet. Op dié manier alleen, verklaar hy, kan hy hul fyn smaak ten volle waardeer. Dit verbied egter nie die kok om van oesters allerhande gemengde skottels te maak nie, en daar is honderde oesterresepte wat die moeite werd is om te probeer.
Net so met mossels. Ons het verskillende soorte mossels, waarvan die groot blou en die groot, amper vierkantige wit soorte, die populêrste is. Teenswoordig kos hulle meer as 'n paar jaar gelede, toe dit nog moontlik was om hulle teen 'n sjieling per honderd op die vismark te koop. Hulle is egter selfs teen die verhoogde prys