as gebraai is? Ek hoef niks te sê van 'n vleisgereg wat in 'n miershoopoond gebraai is nie. Baie van my lesers sal miskien nooit die geleentheid hê om so iets te probeer nie; maar as hulle wel die kans kry, laat my hulle dan smeek om daarin 'n skaapkop, 'n groot makou, 'n kalkoen of 'n lammetjie te braai. Een van my nooit te vergete herinnerings is van die eerste maal - dit was by geleentheid van 'n Dingaansfees - dat ek 'n oskop wat kompleet met horings en vel in 'n miershoopoond gebraai is, geproe het. Die wangvleis daarvan en die verhemelte - ek kan maar net 'n gebaar maak soos die Kleurling-ouderling toe hy in sy preek oor die sap van die wynstok gepraat het!
Met ons hedendaagse moeilikhede in die kombuis hoef ons darem nie ‘onder die as bak’ heeltemal van sy regte te ontsê nie. In 'n goeie Sweedse oond, selfs die veel duurder nuwerwetse modelle wat daar nou is, kan 'n mens uitstekend ‘bak’. Ek dink aartappels wat in so 'n oond gebak is, is net so smaaklik as dié wat onder die as gebak word; patats ook. Die kenner sal miskien beweer dat dit afhang van die soort as wat ons gebruik. Ek gee toe wat betref taaibosas. Dit het miskien 'n werklike, ofskoon baie swak, invloed op die smaak van 'n patat. Maar dit kan ook maar net verbeelding wees. As jy onder die as braai of bak, dan kry jy nie die direkte samesmelting van kosgeur met rookgeur soos wat gebeur as jy bv. oor hardekool 'n stukkie vleis op die rooster braai nie. Deur in 'n miershoop-oond te braai, kan jy natuurlik invloed uitoefen op die kos wat daarin gaargemaak word. Ek weet van 'n ou tannie wat, nadat die oond goed warm was, daarin 'n handvol blaartjies van 'n sekere bossie gegooi het; die bossie het 'n sterk, kruieagtige reuk, en die vleis wat in daardie miershoopoond gebak is, was besonder lekker. Ek kon egter nooit uitvind wat die bossie was nie, daar die tannie besonder geheimsinnig daaromtrent was.
'n Ander manier is om ‘pot’ te kook. Sit die kos nadat dit eers bietjie gestoof of gekook het, in 'n erdewerk- of ysterpot, en terwyl die vuur daaronder brand, sit warm kole op die deksel. Op dié manier kry jy onder en bo hitte. Dit is 'n namaaksel van ‘onder die as bak,’ maar te omslagtig en lastig, en buitendien