dat hulle bysaak is en dat die hoofsaak is om die groente smaaklik en verteerbaar op te dis.’ Sy wil my nie glo nie en haal die groot geleerdes aan, en die dagbladadvertensies wat ons vertel dat ons in koejawels 'n groter skat besit as in ons goudmyne. Daardie soort geleerdheid laat my wanhoop aan die toekoms van ons arme ou volkie.
Dus, gaan tog nie te kere oor die vitamines as jy met groente te doen het nie. Beskou 'n wortel, 'n raap, 'n ui, 'n kop- of blomkool, spinasie, mielies, marankas, patats, snyboontjies, komkommers - watter soort groente daar te kry is - as iets wat deur behoorlike kookkuns verbeter en veredel kan word, en net so goed deur onversigtige behandeling in die kombuis benadeel word. Behou die geur daarvan; waar moontlik die sappige brosheid wat groen groente ‘laat knap onder die tande’; behou veral die waardevolle minerale. Moet dus nie ‘opkook in kou water’ nie. Daardeur kry 'n mens goeie groentesop, maar geen deeglik gaargemaakte groente nie. Kook in borrelende, kokende water, as dit moet, maar stoom liewer in hul eie groentewater, met die deksel dig op die pot. Baie waterige groente, soos bv. komkommers en brinjals, kook binne 'n paar minute gaar; ander, wat ewe sappig lyk maar dit nie is nie - soos pampoen en murg-van-groente, wat veel meer weefsel bevat - neem langer om gaar te kook.
En sit tog geen koeksoda by nie. Koeksoda het 'n bepaalde doel in die kookkuns. Dit is om surigheid te breidel, maar geensins om kleur, of dit nou groen of geel is, in gekookte groente te bewaar nie. Gebruik dit dus ingeval 'n puree van tamaties of 'n tamatiesop nodig is, en dan versigtig en met kuns. Maar gooi dit nie sommer so by as boontjies, ertjies, kool en ander groen groente gekook word nie. Daar is een uitsondering: gestoomde porslein - 'n groentesoort wat alte min deur ons gebruik word, ofskoon dit in elke tuin en op elke plaaswerf voorkom - met suring; daarby hoort 'n grypie koeksoda.
Speserye, sout, peper - nou ja, dit is 'n kwessie van smaak. Myns insiens oordryf ons dit met sout. Die meeste groentesoorte het min sout nodig, en, veral as hulle 'n fyn geur besit, ook maar min speserye. My ou meesteres in die kookkuns het egter altyd