26. Druiwe in die Kookkuns
‘Ag nee a, 'n mens kook mos nie druiwe nie!’
Die niggie het huishoudkunde in 'n moderne skool geleer - ek glo sy het selfs daarin gematrikuleer, iets wat my reeds kwynende agting vir eksamens nog laer laat sak het, want die vroumens kan nie eens 'n aartappel behoorlik kook nie. Sy kan oor vitamines en koswaardes sanik totdat dit tyd is om bed toe te gaan. Maar ag, haar onnoselheid oor die kookkuns.
Verbeel jou, 'n mens kan nie druiwe kook nie!
Ek kyk terug op my kinderjare. Ek sien in my verbeelding ou aia Hanna, wat kok in die ou Withuis in Strandstraat was, soos sy by die kombuistafel staan. Ek dink ek hoor uit die agterplaas, waar oubaas Haylett 'n soort dieretuin aangehou het, hoe die fisante klak-klak en die kuifkopduiwe koer-koer, want vanuit die kombuis kon jy die hokke sien en die wild daarin bewonder. Dis weer Februarie, maar anders as vandag, want Strandstraat was toe nog nie lewensgevaarlik vir die voetganger nie, en die perdetrem wat daarlangs geloop het, was 'n sedige, stigtelike manier van vervoer in vergelyking met die dwars- en dolspringery van vandag. Op die tafel was 'n mandjie Kanaänsdruiwe, een yslike groot tros soos ons vandag nie meer sien nie. Die aia was besig om die korrels te skil en die pitte versigtig uit te haal.
‘Dis vir die vis, Basie,’ het sy aan my verduidelik; en toe ek later die vis geëet het, was dit vir my sonneklaar dat 'n mens soms wel met groot sukses druiwe kan kook.
Die aie se resep vir druiwe met vis is goed bekend aan die koks. Careme sê daaromtrent dat dit nie alte soet druiwe moet wees nie, ofskoon hy muskaatdruiwe neem, wat myns insiens veels te soet is. Daar ons nou nie meer die Kanaänsoort kan kry nie, sou ek een van die ander nuwerwetse Algerynse soorte aanbeveel, of een soos Waltham Cross of Raisin blanc, maar in werklikheid kan enige soort tafel- of wyndruif gebruik word. Hulle moet versigtig geskil en ontpit word en dan sonder water - hulle is sappig genoeg daar-