ander elemente. Hulle het maar uiters weinig nodig, maar selfs as daardie besonder geringe hoeveelheid ontbreek, kan hulle nie gesond ontwikkel nie, en die bol of saad, wat ons as groente gebruik, is dan nie heeltemal eersteklas nie. Die eerste wat ons merk, is 'n gebrek aan vastigheid; die mieliepit, byvoorbeeld, het nie meer die mooi, ronde, blinkende voorkoms wat hy behoort te hê nie. Daar is te min vogtigheid in hom. Die tweede is 'n verandering in die kleur; die pit is nie meer egaal wit of geel nie; dit het hier en daar 'n grysagtige voorkoms en die blare is verlep, met geel of bruin sproete daarop. Hoe ouer die mielie is, des te erger word die saak, maar ook heel jong mielies vertoon soms opvallende tekens van ondervoeding en ongesondheid.
Vermy sulke mielies. Kies jong mielies met behoorlike pitte wat in egale lyne loop. Dis natuurlik nie 'n reguit lyn wat die pitte het nie; niks in die mieliewêreld is heeltemal reguit nie, en daardie rye pitte wat so reguit lyk, is in werklikheid 'n spiraalvormige manier van groei. Of ten minste so beweer my vriende wat iets van botanie weet - en wie is ek om my wysneusige opmerkings oor die saak wêreldkundig te maak?
Moet jy jou mielie met of sonder die binneblare kook? Die Amerikaners kook dit altyd met die binneblare, wat saam met die baard verwyder word nadat die mielie gaar is. Ons manier, waaraan ek ook voorkeur gee, is om die blare af te trek, die mielie mooi van elke stukkie baard te suiwer, dit dan vir 'n paar minute in kokende water te dompel en daarna stadig te kook met 'n bietjie sout in die water. Maria sorg dat dit nie te lank kook nie. Dit is moeilik om presies te weet waar die kook moet ophou. Te lank kook verwyder die sappigheid uit die pitte; hulle lyk dan nie meer mooi rond nie, maar amper kantig, en die een staan nie meer, soos hy behoort te doen, skouer aan skouer met sy maat nie, maar leun 'n bietjie oor, asof hy skaam is om sy plek in die ry te behou. Ek erken volmondig dat ek nog nie die kuns geleer het - wat elke ou aia skyn te besit - om mielies perfek te kook nie. Dus waardeer ek dit des te meer as ek dit op die plaas in die mielietyd teëkom, veral as dit nog van die ouderwetse ‘broodmielies’ is. Die kleiner suikermielies wat nou so danig in die mode is, is in vergelyking