vierkantige stukke, nadat jy hom eers geskil het, en plaas die stukke in 'n kastrol met 'n koppie bruin suiker, 'n kelkie brandewyn, 'n stukkie nartjieskil en 'n stukkie pypkaneel. Stowe hulle stadig maar goed. Dis op met geklitste room. My ou tannie het altyd 'n kelkie Van der Hum bygesit, maar dit maak nie eintlik saak as daar reeds kaneel en nartjieskil in die stroop is nie. Hoe onryper hy is, hoe beter deug hierdie manier. Ek verkies om my gestoofde papaja van harde, nog glad nie ryp vrugte te maak. Dan is dit pragtig wit as dit goed en versigtig gestoof word; te vinnig stoof, maak die stukke bruinerig. Altwee smaak ewe lekker, maar die mooi wit soort is darem verkiesliker.
'n Ander manier is om poeding daarvan te maak. Stamp die vrugvleis fyn en meng dit met suiker, spesery (watter soort gebruik word, hang af van jou eie smaak, miskien is gemmer, kaneel en 'n grypie piment die beste; neutmuskaat moet jy weglaat, en ook naeltjies of nartjieskil), die geel van 'n paar eiers en 'n paar lepels gesifte fynmeel. Sommige mense voeg nog fyn gekerfde bitterlemoenskil, 'n paar rosyntjies en 'n bietjie gestampte amandels by. Jy kan byna alles in 'n poeding stop, het Careme gesê, maar die oorlaai veredel nooit die end-resultaat nie, dus raai ek aan om nie te spandabel met ander geure te wees nie. Sit in 'n vorm of in 'n doek met meel bestrooi en stoom stadig. Bedien met 'n soetsuur bottersous. Of nog beter, as jy eg Afrikaans wil wees, maak 'n soetsous van skilpadbessies, of, as jy dit kan kry (helaas, dis nou nie so maklik nie), van wilde-appelkoosbessies en gooi dit oor die poeding. Die pragtige rooi kleur akkordeer goed met die roomgeel poeding en maak die smaak daarvan nog lekkerder.
Ook 'n roomys kan ons van die papajavrug maak. Klits weer op, hierdie keer met room, 'n suikerstroop, gerasperde suurlemoenskil, eierdooier en 'n paar druppels lemoenolie. Sit in die yskas, en sodra dit begin styf word, klits weer op en voeg 'n bietjie suurlemoensap by. Vries dan goed; bedien met soetkoekies of beskuit. Jy kan jou roomys verfraai - van veredel is hier geen sprake nie - deur 'n geysde dik soetsous, gemaak van aarbeie of frambose, daaroor te gooi. Dit is wat die Amerikaanse kokke 'n ‘sundae’ noem, maar hulle snoep dit elke dag van die week.