23. Heerlike Slakgeregte
In oom Danie se wingerd is daar baie slakke. ‘Hulle doen nie eintlik skade nie, neef,’ sê oom Danie, ‘maar as die volk hulle nie uitroei nie, teel hulle miskien aan ...’
‘Ag, nee a,’ sê oom Danie 'n rukkie later, toe ek hom vertel dat sy eie voorouers die slakke uit die Europese wingerde hier ingevoer het. ‘Dis darem te erg om te glo.’
‘Nee, wrintig, oom Danie. Hulle het net een foutjie gemaak. Hulle wou die groot Italiaanse slak hier hê, en dié het op die reis gevrek; net die wingerdslak het aan die lewe gebly ...’
‘En wat op aarde wou hulle dan met die goed doen?’ vra oom Danie. ‘Of was dit om een of ander luis uit te roei ... Maar die druiwestok het mos nie 'n luis nie ...’
‘Nee, om te eet, Oom.’ En tot oom Danie se ontsteltenis het ek 'n paar dosyn van sy wingerdslakke kombuis toe geneem en daarvan 'n slakskottel gemaak. Dit het moeite gekos om die ou daartoe te kry om daarvan te proe, maar nadat die kleingoed, en selfs tant Hessie, verklaar het dat dit ‘lekker’ was, het hy darem probeer. En nou maak tant Hessie self so af en toe 'n slakskottel.
Want die wingerdslak is regtig 'n lekkerny. Goed toeberei is hy een van die lekkerste kossoorte wat daar is.
Hy word ook die tuinslak genoem, en sy wetenskaplike naam is Helix aspersa. Hier in Suid-Afrika het ons oor die seshonderd nefies en niggies van hom, en sommige daarvan ag ek baie lekkerder as hy. Daar is byvoorbeeld die pragtige groot veldslakke van die bosveld; die gestreepte is Achatina zebra, wat amper anderhalf ons vleis oplewer. Die grootste is Achatina immaculata, wat soms oor 'n pond weeg, maar wat helaas slegs langs die kus van St. Luciabaai in die lang ruigte boer. 'n Ander groot soort is Metachatina kraussi uit Pondoland, en nog 'n ander is die smaaklike wit-geel veldslak uit die Richtersveld, met die lang wetenskaplike naam Trigonephrus porphyrostoma. Daartussen is letterlik honderde kleiner slakkies, waarvan die nietigste (en uit 'n kosoogpunt