is, lekker kan wees; maar in vergelyking met dié wat met meer sorg gemaak is ... nou, daar is geen vergelyking nie.
Beesbiltong is heeltemal iets anders. Dit is eintlik nie iets om te rasper nie, want behoorlik gemaakte biltong is te klam om geskraap of gerasper te word. Die regte manier is om dit in dun skyfies te sny en dié dan saam met botter en lekker vars bruin brood te eet. Om hierdie soort biltong te maak, vereis geduld en kennis. Dit vereis ook 'n goeie, liefs 'n jong, vet bees, waarvan die spierweefsels nog nie taai is nie. Sodra die bees geslag is, moet die biltongmaker sy biltongvleis kies. My oudste Kaapse resep, dié van mev. Schwabe, sê: ‘Neem die bilspier wat na die onderbeen gaan en kies een wat omtrent so dik as jou bo-arm is.’ Ek weet nie presies wat dit beduie nie. Daar is verskillende bilspiere, en ek self sou, soos reeds gesê, die dik ronde spiere wat langsaan die ruggraat lê, verkies bo die loopspiere, van die voor- of agterbeen. Maar watter ook verkies word, bewerk dit goed. Sny dit sodat dit egaal langwerpig is, nie meer as hoogstens agt pond in gewig nie; 'n gewig van drie, vier pond is miskien die beste. Minder swaar stukke droog te gou uit. Verwyder elke stukkie sening wat te sien is versigtig. Dit is nie nodig om al die buitevet ook weg te neem nie; 'n sekere hoeveelheid vet om 'n gedeelte van die biltong is eintlik 'n aanbeveling.
As die stuk klaar gesny en effens afgedroog is, klop dit dan 'n bietjie met 'n stuk hout; dit dien om die buitenste weefsels 'n ietsie te kneus, sodat die pekel beter kan indring tussen die weefsels. Vryf in met 'n mengsel van sout, peper, salpeter, koljandersaad, neutmuskaat, foelie en 'n grypie gemaalde gemmer. My ou resepte lui: ‘met salpeter, sout, bruin suiker en anys.’ Die bruin suiker sou ek toegee - die anys nooit nie.
Is 'n pekel nodig? Die menings daaroor verskil. Die beste beesbiltong wat ek geëet het, was 'n pekelbiltong. Die tannie wat dit gemaak het - en sy was 'n meesteres in die kuns - het dit dae lank laat lê in 'n mengsel soos tevore beskryf, wat sy natgemaak het met brandewyn en asyn; elke dag het sy die biltong goed ingevryf; elke derde dag het sy dit 'n bietjie gepers en dan weer in die pekel gelê. Daarna het sy dit goed afgedroog, omhul met kaasdoek