16. Die Bereiding van Voëls I
Die verskeidenheid van ons gevleuelde wild is so groot dat elke kookboek daarvoor 'n ewe groot verskeidenheid resepte gee. In een van my oudste kookboeke, in handskrif geskryf in 1835, vind ek die volgende:
Patrys in Rooi Wyn. Een middelslag groot patrys; een bottel rooi wyn; twee groot uie; een eetlepel bokwietmeel; een geskilde suurlemoen; sout; peper; 'n klont botter.
Sit die botter in die kastrol saam met die uie, wat in dun skyfies gesny is, en laat braai totdat dit liggeel is. Sny die patrys in mooi egale stukke; voeg by die uie; strooi in die meel, sout en speserye; laat stadig stoom; voeg by die wyn. Sit die deksel op die kastrol en laat weer stadig stoof; skud die kastrol goed. As die patrys lekker sag is, haal uit en bedien op gekookte rys; strooi pieterselie oor.
Dit is 'n wysiging van een van die alleroudste resepte vir gevleuelde wild, maar miskien nie die beste nie. Die kok wat voëls, veral wilde voëls, behoorlik vir die tafel wil klaarmaak, moet 'n bietjie meer presies en sekuur te werk gaan.
Eers wat betref die wilde voël self. Die oorgrote meerderheid van hulle het donker vleis. By sekere soorte - fisante, poue en jong patryse byvoorbeeld - is daar 'n klein gedeelte van die borsvleis wat min of meer wit is, maar selfs dan is dit nie die wit van 'n kalkoen of 'n gevoerde plaashoender se vleis nie. Die beste soorte het deurgaans swart of bruin vleis. Hulle is dus nie, uit 'n puur estetiese oogpunt, geskik om gekook opgedis te word nie; by uitstek lewer hulle ‘braai’ - of ‘stoof’-vleis. Ek het weliswaar groenduiwe, spekvet nadat hulle vir 'n paar maande op wildevye en maroelas geteer het, gekook geëet - gekook en opgedis met 'n wit sous nogal. Hulle was eersteklas wat smaak betref; maar 'n ortodokse kok, opgelei in die skool van Careme en La Chapelle, wat beweer dat die oog net so goed moet versadig word as die mond, sou dit nie as 'n eersteklas gereg beskou het nie. En ek