wilde-eend uitkies as verteenwoordigers van twee groot groepe - die witvleis-groep en die swartvleis-groep.
'n Tarentaal, mak of wild, is gewoonlik vet, maar nie vet genoeg om sonder lardering klaargemaak te word nie. Sy vel, soos ook dié van 'n patrys, is nie te taai nie, dus is dit nie nodig om dit af te trek nie. Maar dit is nodig om hom te skroei om die donsvere goed af te kry. Daarna moet die kok hom goed invryf, binne en buite, met botter of vet. Of daar 'n ietsie spesery - selfs knoflok - by die botter of vet moet wees, is 'n vraag wat iedereen vir homself moet beantwoord. Ek gebruik altyd 'n bietjie gestampte nartjieskil met gerasperde neut gemeng; dit gee 'n lekker bysmaak wat tog nie sterk genoeg is om die tarentaalsmaak te bederf nie. Lardeer die bors, en sover moontlik ook die boud, met heel dun repies varkspek, sonder vel natuurlik. Vul met 'n mengsel van fyngemaakte lewer, hart en longe, 'n paar gestampte okkerneute, 'n stukkie suurlemoenskil en broodkrummels in melk geweek, met sout en peper na smaak. Tant Alida het altyd uie ook bygevoeg, maar ek glo dit is 'n fout; 'n nog groter fout is om die suiwer Engelse gewoonte na te volg en salie in te stop. Onthou, 'n tarentaal, mak of wild, is 'n witvleis-voël, fyn van smaak en baie teer. Behandel hom dus met die grootste versigtigheid. Bedruip hom naarstig in die oond; met vet in die eerste plaas, totdat hy mooi goudbruin is. Daarna met sy eie sous, waarby ons gerus 'n paar eetlepelsvol goeie jeropiko kan voeg. Eers as hy mooi gaar is, moet die peper en sout bygevoeg word en stuur hom tafel toe so warm as hy maar kan wees. Bedien hom saam met goeie aartappels, papgekookte rys en blomkool. Gestoofde pruimedante gaan goed saam met hom. En enige soort rooi wyn, of selfs 'n goeie witte. Hy akkordeer met alles.
Ons wilde-eend is 'n glad ander saak. Hy is in die eerste plaas 'n taai dier, met min ‘kort vleis’ en met 'n harde, taai vel. En tog, daardie vel is een van sy beste hoedanighede. As hy 'n water- of bleshoender was, dan sou ek stellig aanraai: Trek sy vel af - net soos Apollyon met Marsyas gedoen het, maar natuurlik op 'n minder wrede manier. Die een oubaas het die ander lewendig afgeslag, en dis nie nodig in hierdie geval nie. Maar gaan so te sê