wêreldryk met onmeetlike moontlikhede uitgemaak het, was die baas kwaad omdat die bosduiwe so danig gepla het. Swerms van die goed, amper soos die sprinkane waarvan in Exodus tien vertel word; ek glo nie ek sal ooit weer soveel bosduiwe bymekaar sien nie. En outa Augustus het van kraalbossies 'n skuiling op die lande gemaak en daarvandaan 'n grippie wat hy met kaf en semels en hier en daar 'n paar korrels rog gestrooi het. Daarna het hy in die skuiling gaan sit met die lang voorlaaier, en toe honderde bosduiwe weerskante van die grippie gesit het, koppie aan koppie om gemaklik te vreet, het hy losgetrek. Ons het oor die tweehonderd bosduiwe van daardie een skoot gekry, en die volgende namiddag was daar 'n rafeltjiehutspot soos ek nog nooit weer gesmaak het nie. Maar ek gee toe, die omstandighede was anders. Waar kan jy nou vir geld of goeie woorde drie, vier soorte wild kry, as jy nie self êrens in die laeveld op jag gaan nie?
Maar gestel jy het die geleentheid. Handel dan so. Dit sal betaal, en jou gaste sal daardie eetmaal ook met witkalk merk vir solank as hul geheue en goeie smaak duur.
Sit 'n paar pond van enige bokvleis, liefs van die sagte rugstrook, in die ysterpot; sit daarby 'n paar duiwe, 'n swempiepatrys, 'n fisant, en enige ander soort wild, gevleuel of voetlopend, wat jy kan byraap. As jy 'n stukkie vlakvarkvleis kan kry, soveel te beter; maar as dit ontbreek, neem dan 'n stuk varkspek, nie alte sout nie, en sny dit in dobbelsteentjies en voeg by. As daar grootwild by is, met murg in die bene, kap dan die bene oop, en dan is daar geen rede om ander vettigheid by te voeg nie. By gebrek aan wildmurg, voeg 'n groot klont hardevet of botter by.
Laat stadig stoom oor die vuur en roer gedurig dat dit nie aanbrand nie. Geen water is nodig nie; die sappigheid van die vleis is voldoende. Of jy daarby nog uie, speserye, selfs aartappels en groente moet voeg, is 'n probleem wat jou eie smaak sal moet oplos. Ek dink nie dit stryk nie, maar dit is 'n saak van smaak. Ook of jy later, as dit mooi gaar word en deurmekaar ‘gerafel’ is, wyn, asyn of room moet bysit. Die eerste maak dit donkerder van kleur, en ons Bonades hou daarvan dat die gerafelde huts-