kwessie van indiwiduele smaak hoe ver ons die vervalling moet laat werk. Ons Bonades, byvoorbeeld, hou nie daarvan dat ons wildvleis buite die kombuis geruik kan word as hy gebraai word nie. Ander, weer, wil hê dat die wildvleis van ver af sy teenwoordigheid moet verraai. In een van die oudste kookboeke word selfs aangeraai dat jy die wildboud moet begrawe en hom eers moet gebruik as daar nuwe ‘lewe’ in hom begin verskyn; maar so 'n walglike voorbereiding is sekerlik nie in ooreenkoms met 'n beskaafde smaak nie.
Lardeer dus die wildboud. Dit is geen kinderwerk nie, want dit moet kunstig gedoen word, sodat as die boud later gesny word, elke snytjie twee of drie stukkies spek sal bevat. Gebruik goeie harde varkspek, sonder vel natuurlik, en liefs spek wat nie gesout is nie. Daarna kom die marinering. Ons Bonades gebruik 'n marinade wat bestaan uit driekwart droë wyn en een-kwart asyn; sommige van ons buurmense gebruik net asyn; sommige weer net wyn. Tant Hester het altyd 'n grypie salpeter in die marinade gedoen, maar ek dink nie dit is nodig nie. Voordat die boud in die marinade gelê word, moet hy goed ingevryf word met sout, peper, 'n grypie gepoeierde droë gemmer en 'n klein stukkie - 'n baie klein stukkie - knoffel. Sit hom daarna in die loog, waarin 'n lourierblaar of 'n suurlemoenblaar geplaas kan word. Laat hom ten minste vier-en-twintig uur daar lê. As hy goed gelardeer is, is dit genoeg; die loog dring dan in by die lardeergate en die vleis word deur en deur gedrenk. As hy langer lê, word hy gewoonlik te sag, en te veel surigheid bederf ook die egte wildsmaak.
Neem hom uit die marinade en droog hom goed af. Bestrooi hom met fyn bokwietmeel; vryf dit in dat dit 'n dun lagie oor die buitekant vorm. Sit hom dan in 'n pan of ysterpot oor 'n vinnige vuur en laat hom bruin braai aan altwee kante, sonder iets meer as sy eie vet. Sodra die buitekant bruin is, sit 'n paar eetlepels vet in die pot of pan, saam met 'n halfkoppie rooi wyn en peper en sout na smaak. Trek die pot of pan na die koeler kant van die stoof en laat die wildbraad stadig smoor; skud dit gereeld, sodat die sous mooi oor die vleis trek en hou die deksel