Dit is ook 'n erg handige voedsel, want dit kan geniet word sonder enige verder voorbereiding, en dit is 'n voedsel wat lig verteerbaar is en waarvan byna elke greintjie deur die liggaam verbruik word. Dit kan ons nie eerlik van sommige voedselsoorte sê nie. Van elke pond vleis wat ons eet, maak ons waarskynlik maar gebruik van 'n derde gedeelte; op die res verspil ons 'n sekere mate van krag wat ons beter vir iets anders kan gebruik.
Rou eiers, opgeklits, met of sonder iets om die smaak meer prikkelend te maak, is 'n eersteklas voedsel. In die kookkuns word dit baie gebruik, veral in souse. Sodra 'n eier bo 'n sekere hittegraad verwarm word, ontstaan daar in hom sekere belangrike veranderings. Die een is die stolling van die eiwit, wat dit hard en wit maak. Sommige soorte eiers besit 'n eiwit wat stol sonder om troebel of wit te word - pikkewyneiers, byvoorbeeld, en kiewieteiers. Hulle voedselwaarde is egter nie minder nie, want hul eiwit bevat dieselfde proteïde as hoendereiers. Deur hitte word die eierdooier, die geel, ook gestol, ofskoon in mindere mate, of liewer op 'n minder opvallende manier, want die olie en vetsure in die geel vertraag en beïnvloed die stolling. Elke goeie huisvrou weet dit en dra sorg om, as sy eierdooiers in 'n sop roer, die sop nie te laat kook nie, anders skif dit.
Hoe die hitte op die eier toegepas word, is ook 'n punt wat in ag geneem moet word. Ons sien dit in die geval van hard- en saggekookte eiers. Algehele stolling van die eiwit en geel, soos in 'n hardgekookte eier vereis nie meer van ons spysvertering as 'n gedeeltelik gestolde eier - 'n saggekookte eier, waarvan die wit nog nie hard is nie. Inteendeel, 'n eier wat 'n halfuur lank gekook het, is makliker verteerbaar as 'n sagte. Die geel daarvan word selfs gebruik vir die voeding van babetjies wat nie melk of meelbol kan verdra nie en is uitstekend geskik vir toepassing in skottels vir siekes en herstellendes. Die eiers van dertig en meer jaar oud waarna die Chinese so danig gek is, word altyd anderhalfuur lank gekook. Dan word hulle geskil, in dun skyfies gesny en met 'n suur sous opgedis. Hulle smaak omtrent soos voos rape; alles hang af van die smaaklike sous wat jy daarby kry. Ek kan ook byvoeg dat hardgekookte eiers maande lank bewaar kan