Goed. Maak dit tot 'n koue sous, 'n dik sous. Verdun dit nou met iets wat net so omslagtig gemaak word - in water geweekte tamaryn, die pitte eers uitgehaal. En daarna twee koppies dik suurmelk. Hoe om dit te maak, is ewe omslagtig aan my meegedeel, maar ek het nooit die ‘slag’ gekry om dit te doen nie. Ek gebruik sommer enige dikmelk wat 'n bietjie surigheid besit, en miskien daarom is my Duismens-pienangvleis nie eersteklas nie.
Roer dit nou in en om die gestoofde vleis en laat dit smoor - nie kook nie, o nee, glad nie. Kook, borrel-kook, bederf die sous; te lank smoor, maak dit waterig. Sommige mense - nie die Bonades nie - meng daarby 'n paar lepels tamatiesous; sommige wat nie oor egte geelborrie beskik nie, gebruik kerriepoeier, maar die sous is self 'n tuisgemaakte kerriesous en het niks meer nodig nie.
Niks meer nie? Nee, ekskuus. Proe dit; kyk of dit genoeg sout het, en as dit nie het nie, voeg by. Die soutsmaak moet beslis maar tog nie oorweldigend wees nie. Veral as dit goeie vleis is.
Daar is mense wat pienangvleis van gekookte of gebraaide koue vleis maak. Daar is ook mense wat mosterd met melktert eet. Vir hulle skryf ek nie. Blikkieskos sy hul voedsel tot in lengte van dae.
Wat uit daardie pienangvleispot kom, is 'n gereg wat werklik die moeite werd is om te smaak. Die vraag is wat om daarmee aan die tafelgaste voor te sit? Die gebruiklike geelrys met rosyntjies natuurlik. Maar wat meer? Samballe, van kwepers, uie, komkommers; blatjangs, gestoofde pruimedante. Dis 'n kwessie van smaak. Ek verkies my pienangvleis, wat ek met 'n lepel eet, met drooggekookte rys en 'n porsie sambal of blatjang - niks anders nie. Maar elke diertjie het sy eie giertjie.
En vir drank? Natuurlik geen geurige, eersteklas wyn nie. Dit sou onregverdig wees teenoor die pienangvleis sowel as teenoor die wyn. Oom Daantjie van den Heever, wat erg gehou het van pienangvleis, het my altyd vertel dat 'n Nagmaalwyn die beste is, maar ek sê maar weer dat dit 'n kwessie van smaak is waaroor elkeen vir homself moet beslis.