Die letterkunde is goed bekend met die speenvarkie. Een van die allermooiste stukke in die Engelse prosa is die relaas - uit die Profeet se vingers gesuig, maar dit maak nie saak nie - van hoe die mensdom daartoe gekom het om so 'n juweel vir die tafel klaar te maak en daaraan te smul.
Ek staan vir niemand agter wat betref my opregte, ongeveinsde, hartstogtelike, algehele en innige waardering van 'n speenvarkie nie, ofskoon ek miskien nie so ver sal gaan om in die daaglikse omgaan my erkenning van die diertjie se uitstekende hoedanighede op die manier van die beroemde Graaf van Cuissy te betuig nie. As hy nog rondloop - ek bedoel die speenvarkie, nie die Graaf nie - dan traak dit my nie baie nie. Dis eers as ek hom dood en klaar vir die kombuis voor my sien dat ek met entoesiasme begin borrel en van hom praat asof hy Jacques Perk se reënboog is.
En as sodanig betrag ek hom nou. Eers wat betref sy uiterlik. As hy 'n regte, nog-nie-gespeende speenvarkie is, dan is hy nie alte groot nie, nie meer as hoogstens 'n paar weke oud nie. Die sog se melk lê nog in en op hom en geen ander soort voedsel het nog ooit oor sy lippies gegly nie. Geen speenvarkie van 'n tien of veertien pond vir my nie, en ook nie vir jou as jy werklik 'n speenvarkie wil eet nie. 'n Kleintjie, sowat agttien duim lank van sy spits neus tot by sy krom stertjie, maagdelik, onskuldig, rein.
Sorg dat hy deeglik geskraap is. Geen haartjie moet agterbly nie, veral nie op die kop, rondom en in die oortjies nie. Was hom goed binne en buite en droog hom net so deeglik af. Die vraag of ons paneermeel op daardie mooi wit vel moet gebruik of nie, is iets wat die kundige kok nimmer en nooit in oorweging sal neem nie; om selfs daaraan te dink, is al kettery. Druip-druip-druip; dit alleen deug vir die verkry van die heerlike kraakbrossigheid wat sy omhulsel op tafel behoort te wees.
En wat dan van die vulsel? Ag, liewe leser, laat my jou tog smeek en soebat om nie 'n lelie te probeer verguld nie, geen Eau de Cologne oor ons geurige trompetters te strooi nie! Wees dus versigtig, uiters versigtig, met salie en roosmaryn en foelie