In die praktyk, die kok se praktyk, is die twee woorde grog en bowle heeltemal verskillend, omdat bowle gewoonlik - nie altyd nie - 'n verkoelde of koue drank veronderstel, terwyl grog meestal 'n warm drank beteken. Grog en pons is min of meer dieselfde, met die eenvoudige onderskeid dat 'n pons gewoonlik 'n groter hoeveelheid vloeistof bevat en grog daarteen 'n eenmansdrank veronderstel. Daar is verdere verskille, maar in die fynhede daarvan hoef ek die leser nie te verwikkel nie.
Kort en bondig gesê, is 'n grog iets wat in 'n glas, koppie of kleinerige beker gemeng word en bestem is vir een of twee persone; pons is dieselfde soort drank wat vir meer as een persoon berei word, en bowle is 'n koue pons wat gewoonlik bestaan uit 'n mengsel van 'n wit of rooi wyn met vrugte, kruie en blomblare, met of sonder suiker. Daar is weer uitsonderings op hierdie reël - baie uitsonderings. Maar as daar geen uitsonderings op elke reël is nie, sal ons lewe maar bitter dor en onsmaaklik wees.
Grog is by uitstek 'n warm drankie, geskik om in die koue winteraande, as die wind buite tier en die reën van die dak afdrup, gedrink te word. Dis onder sulke omstandighede wat ons dit verwelkom en sy geurigheid ten volle waardeer. Maar daar is ook baie soorte koue grogs en koue ponse. Algar het as hul hoofbestanddeel alkohol of wyngees, in die gedaante van 'n goeie - hoewel nie juis 'n eersteklas nie - brandewyn waaraan warm water (of tee of enige ander soort afkooksel of aftreksel van kruie of vrugte, of wat dit ook al mag wees), toegevoeg word, waarna dit na wens versuiker en met speserye vergeur word. Dis in die kundige byvoeging van die kruie en speserye dat die vervaardiger van 'n goeie grog sy talent toon. Hier by ons het hy oorvloed van keuse; ons nartjieskil, anysblaar, boegoe, koekmakranka en selfs skaapbossie, gee hom geure wat hy andersins nie sou kan kry nie as hy beperk is tot Oos-Indiese speserye soos kaneel, neutmuskaat, foelie en tamaryn. Daarby het ons nog suurlemoenblaar, lourierblaar en malvablaar, wat algar deur die oumense gebruik is in warm grogs of ponse.
Sonder byvoeging van wyngees of brandewyn, en met of