grond meestal uit verweerde sandsteensand bestaan. Dit het 'n veel breër blaar as die kleiner soort, rank nooit nie, maar gee sy blomstingels regop, met van vier tot twaalf knoppe op elke getakte stingel. Dit is soms maklik, as die veld mooi is na die reëns, om binne 'n paar minute 'n hele kooksel te pluk. Net die knoppe moet gepluk word; as die bloeisels reeds ontluik het, is hulle nie meer so sapperig nie, en die weefsels van die stingel is dan ook taaier.
Niemand het nog veldkool ondersoek om uit te vind hoeveel vitamine- en ander kosbare voedselbestanddele dit bevat nie. Maar die ondervinding van geslagte het geleer dat dit 'n uitstekende groente is wat, sover dit voedselwaarde betref, vergelyk kan word met sigorei, spinasie en kerwel. Net soos gewone kool bevat dit 'n vry groot persentasie aluminium, wat, op sigself beskou, 'n stadig werkende vergif is wat ons liggaam nie kan verbruik nie. Maar die feit dat tuinkool hierdie metaal in hom hou, het ons nog nooit bang gemaak om kool te gebruik nie, en daar is ook hoegenaamd geen rede om veldkool te vermy eenvoudig omdat hy 'n bietjie aluminium bevat nie.
Ek dink nie besonder baie van die hedendaagse aanbidding van die vitamines nie, maar ek sou sê dat veldkool ons al die nodige vitamines wat van hom verwag kan word, vrygewig aanbied. Selfs al het hy geen enkele een van die nuwe afgodjies nie, selfs al ontbeer hy A tot L, of hoever ook die reeds bekende gelid van die goed ook strek, sou ek nog 'n woordjie vir hom inbring.
Want veldkool is waarlik een van die lekkerste en fynste groentesoorte wat in ons sonnige Suid-Afrika te vinde is. Oor smaak is daar natuurlik nie te redeneer nie. Jan verkies murgvan-groente bo aspersies; Margriet het 'n renons in skorsenierwortels. Maar ek het nog niemand teëgekom wat sy neus optrek vir 'n skottel lekker voorbereide veldkool nie, en as ek so iemand ontmoet, sal ek dadelik weet dat daar iets met hom skort.
Om veldkool behoorlik klaar te maak vir die tafel, moet die vars geplukte blomknoppe 'n kwartier in 'n kommetjie soutwater lê; dis om die sand en stof daaruit weg te kry en ook om die klein goggatjies wat onder die blomblare skuil, te verdryf. Sit hulle