huise en na die kleiner losieshuise gaan. Daar kon jy smul aan eersteklas ouderwetse kos, behoorlik gaargemaak oor die getemperde hitte van 'n houtvuur - want destyds het ons nie daaraan gedink om ons kos met 'n warm draad te verskroei nie! Die bes bekende van die Afrikaanse losieshuise was waarskynlik dié van ou juffrou Wahl in die Koningin Victoriastraat, die populêre verblyfplek van elke plattelandse volksraadslid. Die gasvrou was self 'n uitstekende kok, wat die gawe besit het om eenvoudige maar uiters smaaklike skottels te berei, en sommige van die ‘huisresepte’ - soos haar kreefslaai, kreeffrikkadel, boontjiesop en melktert - was reg uit die ou doos. Een van die beste dinge wat die kenner daar kon kry, was die koffie, bedien met sandkoek en een of ander konfyt.
Dis nog altyd die vraag of ons in Suid-Afrika regtig 'n egte, inheemse Afrikaanse kookkuns besit. Vir die bewering dat ons wel so iets het, pleit die feit dat daar sekere kossoorte is - soos klipkous en wateruintjies - wat net hier te vinde is, en dat ons ten minste een manier van kosbereiding het wat nie in Larousse beskryf word nie - die bereiding vir die tafel van ystervarkvel. Daarteen spreek weer die feit dat byna elke sogenaamde ‘Afrikaanse skottel’, wat bestanddele en klaarmaak betref, reeds aan ons voorouers in Europa goed bekend was. Bobotie, byvoorbeeld, word beskryf in 'n ou kookboek wat in 1609, jare voor die stigting van 'n blanke volksplanting aan die Kaap, gedruk is. Ons bredies is niks anders nie as die vleis- en groentemengsels wat in Suid-Frankryk, Spanje en Italië mode was in die middeleeue. Natuurlik was daar in die ou dae geen sprake van byvoegsels soos foelie, neut, peper en ander speserye nie; hulle was veels te skaars om in die gewone kombuis gebruik te word. Eers nadat die Oos-Indiese Kompanjie speserye op groot skaal ingevoer het - in een jaar oor die 100,000 ton uit Indië - was die gewone kok in staat om daaroor te beskik en kon hy sy skottels daarmee geuriger maak.
Wat ons ouderwetse Afrikaanse kookkuns noem, kan vergelyk word met die kookkuns van die streek ten suide van die rivier Adour in Frankryk. Dit is die gedeelte van Frankryk wat waarskynlik die langste onder Engelse invloed was. Dis 'n streek waar