'n Noyau, of amandelpitlikeur, gedrink wat oor die tweehonderd jaar oud was, en dit was nog net so suiwer en smaaklik asof dit 'n paar jaar tevore gemaak was.
Likeure is alkoholiese ekstrakte van speserye, met of sonder 'n byvoegsel van stroop. Die wyngees daarin is - en behoort altyd te wees - taamlik hoog, anders is daar gevaar vir 'n verdere gisting van die vog, met die daaropvolgende onvermydelike verslegtering van die smaak. Die hoofbestanddeel van enige goeie likeur is dus 'n eersteklas brandewyn, en hoe beter die brandewyn is, des te beter sal die likeur wees. Moenie dink dat jy ooit 'n goeie, drinkbare likeur kan maak van 'n minderwaardige soort brandewyn nie.
Daar is tal van likeure in die handel, en uit die omskrywing wat daarvan gegee is, spreek dit vanself dat dit onmoontlik sou wees om die getal van sulke ekstrakte te beperk. Die vernaamste en mees populêre soorte is wêreldberoemd. Daaronder is die geel en groen Chartreuse - oorspronklik gemaak deur die monnike van die Chartreux-abdy en vervaardig van heuning, hisop, kaneel, saffraan en kruieblare gedistilleer met brandewyn en daarna gemeng met 'n suikerstroop - miskien die bekendste soort Curaçao, bitterlemoen-likeur, kers-likeur, Danzig-likeur, Maraschino, Mastika en verskillende ander soorte is algar likeure wat taamlik min suiker bevat, in teenstelling met die soetigheid van Chartreuse, Van der Hum en die verskillende vrugte-likeure. Die likeure wat nie soet is nie, soos bv. kummel, is byna algar gedistilleerde likeure, met 'n hoë persentasie wyngees en dus sterk dranke. Die crêmes of soet likeure daarenteen is meestal erg soet, met 'n hoë suikergehalte en minder alkohol; sommige soos crême de cacao, bevat slegs genoeg alkohol om gisting te voorkom, dus nie meer as 'n gefortifiseerde soetwyn nie.
Ons Afrikaanse Van der Hum behoort tot die crêmes. Dit is nie ons eie uitvindsel nie, want 'n soortgelyke likeur word in die Wes-Indiese Eilande gemaak, en waarskynlik ook in China. Hoe oud dit is, het ek nog nie uitgevind nie. Ook het ek nie daarin geslaag om enige vermelding daarvan in druk te vind voor 1850 nie. Dit is 'n saak wat werklik die moeite werd is om verder uit