Marloth, wat die saak haarfyn uitgepluis het en in sy duur boek 'n bra geïdealiseerde gekleurde prentjie van die ding gee-word deur die miere afgedra na die wortels en ontkiem daar. Na 'n paar weke kom die blom uit die sand. Dis 'n snaakse soort blom, en die reuk daarvan is nie aangenaam nie, maar gelukkig het ons niks daarmee te doen nie. Ons belangstelling, sover dit die kombuis betref, is net in die vrug.
Dit is 'n onderaardse bol, wat eintlik, volgens die botaniste, glad nie 'n bol is nie, maar 'n ronde vrug soos 'n koejawel. Dit het 'n dun, mahoniehoutkleurige skil, en binne 'n sappige, vlaagtige vleis waarin daar dosyne klein saadjies lê. Dr. Marloth vertel ons dat ystervarkies, bobbejane en jakkalse dit opgrawe en vreet. Hy kon gerus gesê het dat tweebenige lekkerbekke dit ook van toeka se dae af gedoen het.
In my jongelingsdae het ek ‘jakkalskos’-vrugte in die ou visen groentemark in Kaapstad gesien - dikwels. Dit was destyds 'n geëerde en seldsame lekkerny. Die kok van die ‘Wittehuis’ in Strandstraat het dit soms opgedis as nagereg. Haar manier van doen was as volg:
Sny die vrug oop, met 'n silwer- of houtlepel. (Moet tog nooit 'n staal-ding gebruik nie, Basie; dit maak sommer 'n verskil aan die smaak, en Basie kan dan net so goed tapiokapoeding eet.) Skraap die sagte binneste uit en pers dit deur 'n sif om die klein saadjies, wat hard en bitter is, weg te kry. Klits op met 'n bietjie room, 'n kelkie ou jeropiek (nou sou ek 'n goeie sjerrie gebruik) en 'n grypie fyn suiker; strooi kaneel oor en bedien met 'n beskuitjie in 'n roomglas.
Verlede jaar het ek daarin geslaag om 'n paar mooi groot vrugte te kry. Een daarvan was reeds te oud vir gebruik, maar twee was nog sappig en vars. Ek het, volgens die manier van Careme, daarmee 'n proefneming gemaak, en vir proefkonyn het ek 'n fynproewer-vriend uitgenooi.
‘Dis darem 'n snaakse soort soufflé hierdie,’ het hy gesê. Hy is 'n versigtige man, wat daarop trots is dat jy hom nie om die tuin sal lei as dit op kossoorte aankom nie. ‘Maar by mispels sou ek nie kaneel sit nie,’ voeg hy by, op die toon van 'n meester wat