Gooi dan die water af en vervang dit met 'n nuwe doopsel, hierdie keer louwarm water met 'n grypie sout daarin. Maar in hemelsnaam geen koeksoda nie! Niks, jammer genoeg, kan die glansryke, pragtige kleur bewaar nie; met die kook gaan dit verlore en die boontjies word bruin; ligbruin as hulle behoorlik, stadig maar goed gekook word, donkerder as hulle te vinnig kook. Hou die deksel op die kastrol, maar skud hom soms en voeg nou en dan 'n bietjie warm water by, sodat die boontjies altyd onder en nie bo die water kook nie. Sodra hulle sag is, neem die kastrol van die vuurherd, gooi die water af en skud die boontjies droog in 'n vergiettes.
Vir die eenvoudige kenner wat altyd van 'n suiwer groentesmaak hou, is hulle nou gaar en klaar vir die tafel. Veral koud. Want hulle het die egte goewerneursboontjiesmaak, so tussen dié van 'n kastaiing en 'n uitgedroogde mispel. Jy kan hulle opdis met 'n suursous, of as slaai met 'n eenvoudige mengsel van asyn en peper, 'n snoepseltjie mosterd en 'n bietjie olie.
Iets fyner, meer geraffineer? Ja, daar is sommige van ons wat nie tevrede is met die reine eenvoud nie. Hulle wil die lelie verguld, reukwater oor 'n reseda giet.
Nou ja, vir hulle dan: Sit die boontjies terug in die kastrol, saam met 'n grypie peper, gemmer en foelie, en gooi daarop 'n koppie vleis- of hoendersop. Laat dit stadig kook, met die kastroldeksel toe. Smoor in 'n ander kastrol 'n gesnipperde ui (met 'n rafeltjie knoflok daarby, indien gewens), en as dit ligbruin is, meng daarmee 'n paar eetlepelsvol tamatiesous. Verdun met 'n paar lepelsvol van die sop waarin die boontjies kook en roer dan die mengsel versigtig in die boontjies, sodat hulle nie breek nie. Laat dit 'n paar minute kook en dis op met pieterselie daaroor.
Nog 'n ander metode: Sit die boontjies in die kastrol, saam met 'n groot eetlepel botter of sagte (liefs hoender-) vet; voeg peper, foelie en kruie by; laat stadig smoor en sorg dat die boontjies nie breek nie. Bedien met gerasperde neut of pieterselie daaroor.
Wat om daarmee te drink? Dis 'n gekleurde skottel, en die estetiese sin verlang 'n gekleurde wyn. Dus 'n rooi tafelwyn wat nie soet is nie.